Ministers moet sê oor Amptenare se Geskenke |
Publication | Beeld |
Date | 2001-10-24 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Die enigste staatsamptenaar teen wie daar tot dusver oor "afslagmotors" opgetree is, is Mnr. Vanan Pillay van die Departement van Handel en Nywerheid.
Die staatsdiensgedragskode bepaal dat 'n amptenaar nie weens sy pos vir spesiale voordele mag beding nie.
Prof. Stan Sangweni, voorsitter van die Staatsdienskommissie, het gesê elke minister en sy staatsdepartement moet besluit of die geskenke, gunste en afslagmotors wat sy amptenare ontvang "binne perke" is.
Indien nié, moet die minister besluit of die amptenaar aangespreek word en of 'n interne dissiplinêre verhoor nodig is.
Sowat 30 motors is teen spesiale afslagtariewe deur die European Aeronautic Defence and Space Company (EADS) en sy sustersmaatskappy DaimlerChrysler SA aan betrokkenes in die wapenbedryf verskaf.
Gen Siphiwe Nyanda, Hoof van die Weermag, Pillay, wat met die transaksies se teenhandelooreenkomste gewerk het, Lt Gen Roelf Beukes, Hoof van die Lugmag, en ander generaals, amptenare en voormalige amptenare van Krygkor en Denel het onder andere afslag gekry.
Mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, en Mnr. Michael Woerfel, voormalige hoof van EADS, het vroeër op aanklagte van bedrog en korrupsie verskyn nadat Yengeni ook glo by die afslag baat gevind het.
Pillay sal binnekort deur sy departement verhoor word, het Mnr. Edwin Smith, ministeriële woordvoerder van dié departement, gesê.
Volgens Sangweni is die opgawe van geskenke en gawes van die staatsdepartemente vir die 2000/2001-boekjaar pas ontvang. In dié opgawe moet alle amptenare geskenke verklaar.
"Ons sal die opgawes fyn ontleed en aanbevelings doen as ons dink sekere geskenke was buitensporig. Dit is deel van 'n poging om 'n stewiger raamwerk vir staatsamptenare op te stel as riglyn."
With acknowledgment to Erika Gibson, Beeld and News24.