"EU-Lande moet Wapenaankope Bekyk" |
Publication | Die Beeld |
Date | 2001-04-25 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Die Demokratiese Party (DA) het gister 'n beroep gedoen op missiehoofde
van die Europese Unie (EU) in Suid-Afrika om druk op hul onderskeie regerings
uit te oefen om bewerings van omkopery in die R43,8 miljard se wapentransaksies
te ondersoek en die betrokkenes te laat vervolg indien nodig.
Mnr. Tony Leon, leier van die DA, het tydens 'n
informele voorligtingsessie aan dié hoofde in Pretoria gesê hy baseer sy
versoek op die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling se
konvensie wat die omkoop van buitelandse amptenare verbied.
Al die lidlande van die EU het die konvensie in
1998 onderteken.
Die konvensie bepaal dat dit 'n misdaad is om
sodanige amptenare om te koop, of om omkoopgeskenke of -geld aan te bied om 'n
gunstige uitslag van 'n saketransaksie te bewerkstellig.
Die inleiding tot die konvensie bepaal dat alle
lande die verantwoordelikheid deel om omkopery in internasionale saketransaksies
te beveg.
Leon het versoek dat al die bewerings van onreëlmatighede
ook in die betrokke lande Duitsland, Engeland, Swede, Frankryk en Italië
onafhanklik ondersoek en opgevolg word.
Hy het as voorbeeld die erkenning van mnr.
Michael Woerfel van Duitsland se EADS, een van die maatskappye betrokke by die
wapenaanskaffingsprogram, gebruik.
Woerfel het gesê sy maatskappy het gehelp dat
mnr. Tony Yengeni, hoofsweep van die ANC, en nog 29 senior amptenare van
lugrederye, die departement van verdediging, elektroniese en verwante nywerhede
en die diplomatieke en politieke korps baat gevind het by die aanskaffing van
luukse motors.
``Alle lidlande van die EU behoort hulle te
beywer vir die unie se gedragskode oor wapenuitvoer.
Die EU moet ook besluit of sy lede sal voortgaan
om aan arm lande, wat nie buitensporige wapenaanskaffingsprogramme kan bekostig
nie, wapens te verskaf.''
Leon het gesê die DA oorweeg dit om sy steun aan
die wapenaanskaffingsprogram te heroorweeg in die lig van die stygende koste
daarvan weens die devaluasie van die rand.
Hy het gesê die regering is die publiek 'n
antwoord skuldig op die vraag of behoorlike bekostigbaarheidstudies voor die
sluiting van die kontrakte gedoen is om faktore soos die waarde van die rand in
aanmerking te neem.
Genl.
Constand Viljoen, voormalige leier van die Vryheids Front, het gisteraand op die
televisieprogram Dwarsklap gesê hy meen die nuwe wapenaankope was nie 'n hoë
prioriteit vir die land nie. Hy het gesê die wapens
sal nie bydra tot die onmiddellike nutwaarde van die weermag nie. ``Ekonomiese
groei sou meer baat by 'n inspuiting van R43 miljard en die weermag sou nog 'n
bietjie kon wag vir nuwe toerusting.''
Met Erkenning aan Erika Gibson en Die Beeld.