Klagte teen Shaikh dalk in Wapensaak Teruggetrek |
Publication | Die Burger |
Date | 2002-01-16 |
Reporter | Erika Gibson |
Die klagte teen mnr Chippy Shaikh, geskorste hoofwapenaanskaffer van die weermag, kan moontlik teruggetrek word en hy kan in sy pos herstel word.
Die departementele ondersoek na die omstandighede van sy skorsing is die naweek afgehandel met die tweede sitting van die ondersoekpaneel onder leiding van mnr Zam Titus, direkteur-generaal van die departement van provinsiale en plaaslike regering.
Titus handel tans die ondersoek verslag af voordat dit aan mnr Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, oorhandig word.
Volgens mnr Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die departement van verdediging, sal Lekota ‘n verklaring oor Shaikh se toekoms uitreik nadat hy die verslag bestudeer het.
Mkhwanazi wou nie uitwei oor voorlopige bevindings van die paneel nie.
Na Die Burger se inligting is daar glo oor verskeie teenstrydghede in verband met die skorsing getuig.
Volgens getuienis hou Shaikh se skorsing glo verband met die ondersoek na die multimiljoenrand-wapenkontrakte, terwyl die teendeel vroeër beweer is.
Shaikh is geskors omdat hy glo tussen 1 Oktober en 1 November vertroulike inligting sonder ministeriële toestemming aan ongemagtigde mense bekend gemaak het.
Die Burger verneem hy het glo in opdrag en in die afwesigheid van Lekota in die tyd namens die departement van verdediging oor dele van die voorlopige verslag oor die wapenondersoek inligting verskaf.
Daar is glo ook oor "beswadderende" aantygings in die wapenverslag beswaar aangeteken.
With acknowledgement to Erika Gibson and Die Burger.