Publication: Beeld Issued: Date: 2001-10-09 Reporter: Dries Liebenberg Reporter: Erika Gibson Editor:

Klopjagte in Wapenondersoek

 

Publication  Beeld
Date 2001-10-09
Reporter Dries Liebenberg,. Erika Gibson
Web Link www.news24.co.za

 

 

Die ondersoekspan na beweerde onreëlmatighede in die R66 miljard se wapentransaksies het Dinsdag vir die tweede keer in een week toegeslaan toe hulle terselfdertyd in Durban, Frankryk en Mauritius op dokumentasie oor die transaksies beslag gelê het.

Die dokumentasie word verbind met "moontlike oortredings wat voortspruit uit die wapenondersoek", het mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), in 'n verklaring gesê.

Die huis en kantore van mnr. Schabir Shaik is in Durban deursoek, asook die kantore van sy maatskappy, Nkobi Holdings. Shaik word grootliks verbind met die toekenning van die multimiljoenrand-kontrak vir die gevegsuites van die nuwe vlootkorvette.

Shaik is die broer van mnr. Chippi Shaik, hoofwapenaanskaffer van die weermag en een van die sleutelfigure in die wapenondersoek.

Die gebeure Dinsdag kom kort nadat mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, weens aanklagte van korrupsie, bedrog, meineed en vervalsing wat verband hou met die wapenondersoek, in hegtenis geneem is.

Ondersoekers van die direktoraat spesiale operasies het met die Franse en die Mauritiaanse polisie saamgewerk toe die klopjagte vroeg gisteroggend in Parys en dorpe in Frankryk en in Port Louis in Mauritius plaasgevind het.

Inligting dat die dokumente waarop beslag gelê is, nodig sou wees in die ondersoek, is glo reeds geruime tyd duidelik. Die nodige toestemming deur diplomatieke kanale moes egter eers verkry word, het Beeld verneem.

Die onderskeie lande se polisie het die klopjagte behartig, terwyl die Suid-Afrikaanse ondersoekers die dokumente in ontvangs geneem het.

Die dokumentasie hou verband met African Defence Systems (ADS), as subkontrakteur vir die korvette se gevegsuites, Futuristic Business Solutions (FBS), betrokke by sekere teenhandelooreenkomste, en Thomson CSF, 'n Franse maatskappy met die meerderheid aandele in ADS.

Schabir Shaik se huis en kantore van Nkobi Holdings in Durban, sowel as dié van Nkobi Holdings se prokureurs, Ditz Incorporated, en die huis van mnr. Colin Isaacs, finansiële direkteur van Nkobi Holdings, is gisteroggend deursoek.

Die klopjagte by Nkobi se kantore aan die Durbanse waterkant het gisteraand nog voortgeduur. Volgens Ngwema was dit moontlik dat lede van die ondersoekspan gisteraand klopjagte op nog persele kon uitvoer aan die hand van inligting wat hulle bekom het.

Lede van die ondersoekspan wat Dinsdag vroegmiddag by Nkobi Holdings se kantore met talle kartonhouers in die hand opgedaag het, was teen Dinsdagaand steeds besig met die deursoeking.

'n Volledige oudit van die dokumentasie sou deur die nag gedoen word en meer besonderhede oor die klopjagte sal volgens Ngwema vandag bekend gemaak word.

Volgens 'n werknemer van Nkobi Holdings was Shaik nie gistermiddag tydens die klopjag in Nkobi Holdings se kantore nie.

In Frankryk is daar toegeslaan op die kantore van Thales International, die houermaatskappy van Thomson CSF, en die huise van twee senior direkteurs van Thomson CSF se Suider-Afrikaanse tak, mnre. Jean-Paul Perrier en Alain Thetard.

In Mauritius is kantore van Thales International Africa, Valmet Mauritius, waar nog van Thales se kantore geleë is, en nog 'n huis van Thetard deursoek.

Niemand is in die jongste optrede ondervra nie. Volgens Ngwema is lasbriewe vir die optrede bekom omdat daar redelike gronde was dat dokumentasie wat die ondersoek kan bevorder, op die persele was.

Dit beteken nié dat die eienaars van die persele van enige misdryf verdink word nie, het Ngwema gesê.

Na verneem word, het gisteroggend se optrede - net soos Yengeni se inhegtenisneming - onverwags vir die betrokkenes gevolg. Dit versterk die vermoede dat verdere arrestasies binnekort kan volg, het Beeld verneem.
 Mnr. Michael Woerfel van European Aerospace and Defence Systems (EADS) verskyn môre op aanklagte van korrupsie en vervalsing in die Pretoriase handelshof.

Dié aanklagte hou verband met dié teen Yengeni nadat Woerfel na bewering 'n luukse motor teen afslag van 47% by EADS se sustermaatskappy, DaimlerChrysler SA, vir Yengeni bekom het in ruil vir die begunstiging van EADS.  

With acknowledgment to Erika Gibson, Dries Liebenberg, Beeld and News24.