Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-09-01 Reporter: Erika Gibson Editor:

Laster-eise Moontlik Teen Young Ingedien


Publication  Die Burger
Date 2001-09-01
Reporter Erika Gibson
Web Link www.news24.co.za

 

Pretoria – ‘n Kontrakteur wat beweer het hy is deur die weermag ingeloop met ‘n kontrak in die wapentransaksie van R43 miljard, loop die gevaar om in die toekoms nie weer ‘n wapenkontrak te kry nie.

Terselfdertyd kan hy deur siviele eise in die gesig gestaar word weens beweerde laster.

Dr. Richard Young van CCII, ‘n verskaffer van militêre rekenaarstelsels, voer al maande ‘n stryd om vergoeding vir die verlies van ‘n kontrak om die bestuurs-inligtingstelsels van die vloot se vier korvette te kry.

Young het kontrakwerk van R23 miljoen uit die korvettransaksies gekry, ondanks die verlies aan die kontrak vir die bestuursinligtingstelses.

Hy het vandeesweek voor die openbare sitting na beweerde onreëelmatighede in die toekenning van die kontrakte verskeie omstrede stellings gemaak om sy saak te staaf.

Skout.adml. (junior graad) Jonny Kamerman, projekoffisier van die korvetprogram, het gister gesê ondersoek sal ingestel word na die geheime klassifikasie van Young en sy onderneming as kontrakteurs van die weermag en Krygkor.

Dié klassifikasie, wat streng beheer word ná ‘n uitgebreide keuringsproses, word gedoen voor kontrakteurs om wapenkontrakte kan meeding. In Young se getuienis het hy dele uit geheime dokumente, wat hy nie in sy besit mag hê nie, aangehaal. Hy het erken hy het vertroulike inligting aan die media gegee.

Volgens Kamerman kom dít daarop neer dat staatsveilighed in gedrang gebring is. As offisier in beheer van die veiligheid van die korvetprogram moet hy Young se toekomstige betroubaarheid laat toets.

Indien in só ‘n ondersoek bevind word dat Young die vertroue ingevolge die klassifikasie geskend het, kan hy geskrap word as kontrakteur weens die vertrouensbreuk met die staat.

Na verneem word, is die rede dat hoogs geheime inligting net sowel in die hande van ‘n vyandige moondheid kan beland as dit ongetoets aan die media gegee word.

Young het vandeesweek nadat hy getuig het en verskeie aantygings in repliek weerlê is, saam met sy respan uit die verhoor gestap. Hulle het gemeen die kruisondervraging onder leiding van adv. Selby Baqwa, voorsitter van die verhoorpaneel, was onregverdig.

Adv. Terry Mahon, regsverteenwoordiger van mnr. Chippy Shaikh, hoofwapenaanskaffer van die weermag en broer van mnr. Schabir Shaikh, direkteur van African Defence Systems (ADS), waarvan die sustermaatskappy Detexis die kontrak vir die bestuursinligtingstelses gewen het, het gister gesê sy kliënt "oorweeg sy opsies oor regsoptrede teen Young".

Young het Shaik beskuldig dat hy die kontrak in ADS se guns geswaai het weens sy broer se pos. Volgens Mahon sal sy kliënt ‘n besluit neem terwyl die amptelike ondersoek afgehandel word.

Volgens mnr. Robert Driman, regsverteenwoordiger van ADS en Thomson CSF, aandeelhouer in ADS en Detexis, is ‘n siviele eis "pertinent op my kliënte se agenda".

Young het in sy getuienis beweer die stelsel van Detexis is "verouderd" en nie van hoogstaande gehalte nie, terwyl dit tegnies "minderwaardig" is aan sy eie stelsel.

Die openbare verhore het gister geëindig. ‘n Verslag deur die ondersoekspanne oor die beweerde onreëlmatighede word middel September verwag.

Met erkenning aan Erika Gibson en die Burger.