Publication: Rapport Issued: Date: 2001-09-09 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Vrae oor Leë Dop wat Wapenondersoek Oplewer


Publication  Rapport
Date 2001-09-09
Reporter Andries Cornelissen
Web Link www.news24.co.za

 

 

Wat is die bohaai oor die wapentransaksie?

Het die belastingbetaler miljoene rande betaal vir die ondersoek net om uit te vind mnr. Tony Yengeni, hoofsweep van die ANC, het 'n goedkoop Mercedes Benz gekry?

Dít kan met reg gevra word as die openbare ondersoek, wat Vrydag onder leiding van adv. Selby Baqwa, openbare beskermer (OB) ten einde geloop het, 'n aanduiding is van wat die hele ondersoek na die omstrede transaksie van R43 miljard gaan oplewer.

Kritici soos me. Judith February van Idasa het van die begin af gewaarsku die openbare ondersoek is 'n verhoog vir die weermag en die regering om die publiek te oortuig niks is fout nie.

Sy is nie verbaas dat die openbare ondersoek niks nuuts opgelewer het nie, want dis nie behoorlik deurdink nie en getuies is nie in 'n bepaalde volgorde opgeroep sodat die publiek die ``storie'' kon volg nie.

Mnr. Andrew Feinstein, ANC-LP wat bedank het oor die ANC en die regering se hantering van die wapenondersoek, het die openbare ondersoek verlede week as 'n ``fiasko'' bestempel.

Dr. Richard Young, die ``stergetuie'' oor bewerings van 'n konflik van belange en enigste ``onafhanklike'' getuie in die openbare ondersoek, is deur regsverteenwoordigers van verskeie rolspelers aan flarde geruk.

Young was die persoon wat mnr. Chippy Shaik, hoofaankoper van die weermag, daarvan beskuldig het dat hy hom nie van vergaderings verskoon het waar sy broer, mnr. Shabir Shaik, se sakebelange bespreek is nie.

Shabir is 'n direkteur van African Defence Systems (ADS), wie se sustermaatskappy, Detexis, die kontrak gekry het wat Young gedink het sy maatskappy CCII Systems klaar beklink het.

Dat Chippy se broer 'n rolspeler in die wapentransaksie is, bewys egter niks nie, want om te bewys dat dít 'n rol gespeel het in die toekenning van kontrakte, is byna onmoontlik.

Dit bring egter 'n belangrike saak na vore: Young is die eerste getuie wat in kruisondervraging geneem is en hy het deurgeloop onder die skerp tonge van prokureurs en advokate.

Me. Raenette Taljaard, DA-woordvoerder oor openbare rekeninge, sê mnre. Alec Erwin, minister van handel en nywerheid, en Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, asook ander senior rolspelers, is nooit kruisondervra nie.

Dit wek die indruk dat getuies nie in die openbare verhoor gelyk behandel is nie, meen sy.

February meen die gebrek aan behoorlike kruisondervraging is die rede waarom die openbare ondersoek niks opgelewer het nie.

Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die openbare deel van die ondersoek net een been daarvan is.

Die ouditeur-generaal se forensiese ondersoek, asook die ondersoek na moontlike strafregtelike stappe deur die nasionale direkteur van openbare vervolgings, gebeur met geslote deure.

February meen die openbare ondersoek het die aandag afgetrek van dié ondersoeke, wat hopelik die "vrae" sal beantwoord wat nie in die openbare ondersoek gedoen is nie.

Hopelik word die getuies in dié ondersoeke se antwoorde op bewerings deeglik getoets soos Young se bewerings in die openbare verhoor geweeg is.

Dit sal later vandeesmaand duidelik word wanneer die ondersoekers aan die parlement verslag doen.  

 

Met erkenning aan Andries Cornelissen and Rapport.