Minister sal moet Getuig oor Aankoop van Wapens |
Publication | Rapport |
Date | 2000-10-14 |
Reporter | Jacob Rooi, Eugene Gunning |
Web Link | www.news24.co.za/Rapport |
Kaapstad. - Die moontlikheid bestaan dat die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge ministers kan vra om getuienis af te lê oor Suid-Afrika se omstrede wapenaankoopprogram van R30,3 miljard. Dr. Gavin Woods, voorsitter van die komitee, sê daar sal in die volgende twee weke na ingesamelde inligting gekyk word.
Die kaf sal van die koring geskei word en die komitee hoop om reeds teen die einde van die maand 'n verslag gereed te hê. Die komitee sal met mense in die regering, die private sektor en in die buiteland kontak maak. As dit nodig is, sal dr. Frene Ginwala, die speaker van die parlement, gevra word om ministers na die komitee te laat kom.
"Ek wil nie die saak vooruit loop nie. Inligting wat ons ingesamel het, dui op weersprekings. "Sedert die verhore die afgelope week afgehandel is, het ek meer as sewentig telefoonoproepe gehad. Donderdag, die dag ná die verhore, het ek meer as dertig oproepe gehad. "Ons wil vasstel of die besluit wat die kabinet geneem het om die wapentransaksies aan te gaan, op betroubare inligting berus."
Mev. Patricia de Lille, PAC-LP, het uit Amerika waar sy op die oomblik is, gesê die Heath-kommissie se aandrang op 'n deegliker ondersoek na die transaksie, word verwelkom. De Lille, wat uit die staanspoor teen die wapentransaksies gekant was, het vroeër dokumente met "bewyse" van ongerymdhede aan die eenheid verskaf. Die name van belangrike mense, van hulle in hoë poste in die regering, word genoem in die aantygings.
Sekerlik sal die president wil hoor presies wat gebeur het, sê sy. Intussen sê die Heath-teenkorrupsie-eenheid hy kan "binne weke" met 'n ondersoek na die beweerde onreëlmatighede in die multimiljard-wapentransaksies van die nasionale weermag begin mits die eenheid die nodige presidensiële proklamasie vir die ondersoek kan verkry. Me. Naomi Goodley, woordvoerder van die eenheid, sê dit is die eerste keer dat die eenheid aansoek doen vir 'n proklamasie om die wapentransaksie te ondersoek. Word dit verkry, wag daar baie dokumente eninligting om deur te gaan.
Die ondersoek sal waarskynlik ook in samewerking met die kantoor van die openbare beskermer, mnr. Selby Baqwa, gedoen word. Mnr. Shauket Fakie, ouditeur-generaal, het onlangs in die parlement die bevindings van sy ondersoek na die transaksies bekend gemaak. Hy het bevind dat in die aanskaffingsprosedure vir korvette, duikbote, helikopters en vegvliegtuie vir die nasionale weermag, afgewyk is van die normale aanskaffingswerkwyse.
Hy het aanbeveel dat 'n forensiese ondersoek na die subkontrakte van die transaksies gedoen word.
Met erkenning aan Jacob Rooi, Eugene Gunning en die Rapport.