Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-07-03 Reporter: Erika Gibson Editor:

Motorafslag "Maak Firma Verdag" in Wapenaankope


Publication  Die Burger
Date 2001-07-03
Reporter Erika Gibson
Web Link www.news24.co.za

 

PRETORIA. - European Aeronautic Defence and Space (EADS) moes met die onderhandelings oor die wapenaankope van R43 miljard 'n afstand gehou het tussen hom en betrokke amptenare om sy integriteit bo verdenking te hou.

Om in motorvoordeelaanbiedings betrokke te raak wat niks met sy kernsaak te doen het nie, het hy sy bedoelings verdag gemaak.

Volgens prof. Gerrie Roodt van die nagraadse sakeskool aan die Universiteit van Pretoria (UP) is dít een van die sleutelkwessies in die debakel of die amptenare "onskuldig" is of vanweë hul betrokkenheid by die wapentransaksies die beweerde motorvoordele deur EADS by DaimlerChrysler SA, EADS se sustermaatskappy, gekry het.

"Boonop betaal die belastingbetaler die amptenare se salarisse. As sodanig moet hul optrede altyd onberispelik en deursigtig wees.

"Die sakewêreld het sy eie manier om met geld te woeker, maar dit is nie die publiek se geld nie. Dieselfde maatstaf geld nie vir staatsamptenare nie."

Die geskarrel om te verduidelik in watter omstandighede minstens 30 betrokkenes in die transaksies na bewering deur EADS met motorafslae bevoordeel is, het gister voortgeduur.

In minstens een geval in die departement van handel en nywerheid is 'n interne ondersoek gelas na die aanskaffing van mnr. Vanan Pillay se motor. Pillay het die teenhandelkontrakte in die wapenonderhandelings gehanteer.

Mnr. Edwin Smith, ministeriële woordvoerder van dié departement, het gesê Pillay het in 'n voorlegging aan die departement verklaar hy het 'n Mercedes-Benz-motor van R196 000 deur EADS teen R141 000 gekry.

In die lig van dié "massiewe" afslag sal twee amptenare Pillay se saak intern ondersoek.

Die ondersoek moet bepaal of hy 'n volledige openbaarmaking oor die saak gedoen het in ooreenstemming met openbare finansiële bestuurswetgewing.

"Die bevindings sal openbaar gemaak word. Afhangend van die aard daarvan sal moontlike stappe gedoen word."

DaimlerChrysler SA het gister by monde van me. Lulama Chakela gesê dié maatskappy gebruik motors as deel van sy bemarking.

Dit sluit in goedkoper of tweedehandse motors vir verdienstelike gevalle en hoëprofielmense.

EADS, as sustermaatskappy, is geregtig om afslagmotors te bestel, "maar ons kan nie bepaal waarvoor en vir wie EADS die motors verskaf nie".

Volgens haar tender DaimlerChrysler SA vir sekere regerings- en vlootvoertuie. Hoewel sy nie die afslag vir dié transaksies wou bekend maak nie, "is afslag van 15% redelik".

'n Woordvoerder van BMW het gesê die voordelestruktuur by dié verskaffer is "rigied volgens 'n goedgekeurde skaal en nié onderhandelbaar nie".

Net regerings- en diplomatieke personeel kwalifiseer vir 'n korting, benewens tenders vir vlootvoertuie.

"BMW stel net drie motors gratis beskikbaar aan ampte, nie aan individue in die ampte nie. Dít is vir die premier van Gauteng, die burgemeester van Tshwane en die kommissaris van polisie."  

With acknowledgment to Erika Gibson and Die Burger.