Net al hoe Nouer Gespan om Verdagtes |
Publication | Die Burger |
Date | 2001-10-10 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Johannesburg
– Verskeie optredes die afgelope twee weke deur die nasionale vervolgingsgesag
se ondersoekspan na beweerde ongerymdhede in die R43 miljard-wapentransaksies
het daarop gedui dat die net nouer om die verdagtes begin span.
Na
gister se beslagleggings in Durban, Mauritius en Frankryk het die nasionale
vervolgingsgesag benadruk dat net op die dokumente beslag gelê is wat verband
hou met die wapens en dat die betrokke maatksappye nie verdink word nie.
Mnr.
Schabir Shaikh is die uitvoerende hoof van die Nkobi-groep. Nkobi het verskeie
sakebelange in onder meer Thomson CSF, ‘n Franse wapenmaatskappy, en die
regeringskontrak vir die verskaffing van die nuwe rybewyskaarte.
Verskeie
bewerings is reeds gemaak dat Shaikh sy noue verbintenis met senior ANC-lede
gebruik om sekere kontrakte te beding.
Hy
is ook ‘n direkteur van African Defence Systems (ADS), die Suid-Afrikaanse
maatksappy wat die omstrede kontrak vir die verskaffing van gevegsuites vir die
nuwe korvette bekom het.
Nadat
dié kontrak toegeken is, het Thomson die meerderheid van die aandele in ADS
verkry. Kantore van Thomson se houermaatskappy, Thales International, in
Frankryk en Mauritius, sowel as die huise van sy Suider-Afrikaanse tak se
besturende direkteur, mnr Alain Thetard, is gister oggend in dié lande
deurgesoek.
Mnr
Chippy Shaikh, hoofwapenaanskaffer vir die weermag en broer van Schabir, het in
die openbare aanhore onder skoot gekom oor sy beweerde botsende belange. Hy het
ADS na bewering begunstig in die toekenning van die gevegsuite-kontrak.
Mnr
Chippy Shaikh het beweer dat hy hom aan vergaderings onttrek het wanneer dié
kontrakte bespreek is.
Hy
is langer as 12 dae deur die ondersoekspanne ondervra.
Die
beslaglegging het ook verband gehou met Futuristic Business Solutions (FBS).
Van
FBS se direkteure is verwant aan mnr Joe Modise, voormalige minister van
verdediging.
Van
die kontrakteurs in die transaksies moes na bewering onder druk
teenhandel-ooreenkomste met FBS aangaan, in ruil vir kontrakte.
Mnr
Ian Pierce, direkteur en rekenmeester van FBS, is meer as ‘n week gelede in
hegtenis geneem nadat hy vroeër ondervra is.
Hy
is gedagvaar om die oorspronklike dokumente in te lewer, maar is in hegtenis
geneem toe hy versuim het om dit te doen.
Met
erkenning aan Erika Gibson, Die Burger en News24.