"Korrupsie, Afslag nie eenders" |
Publication | Beeld |
Date | 2001-07-02 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Daar is 'n "wêreld se verskil" tussen
korrupsie en die aankoop van 'n motor teen 'n afslagprys. Dit is "natuurlik"
vir 'n motorverskaffer om as deel van sy bemarkingspoging verdienstelike mense
en organisasies met só 'n afslag te help.
Dieselfde geld sekere besluitnemers in
Suid-Afrika, en in enkele gevalle goeie vriende en selfs afgetredenes.
DaimlerChrysler SA het Maandagmiddag in 'n sterk
bewoorde verklaring só gereageer op bewerings dat senior sakelui en betrokkenes
in die wapentransaksies van R43 miljard baat gevind het by motors weens die
verbintenis met DaimlerCrysler SA se verwante maatskappy European Aeronautic
Defence and Space (Eads).
Me. Lulama Chakela, woordvoerder van
DaimlerChrysler, het gereageer nadat 'n lys van 33 motors gister in The Star
verskyn het met die vanne van die mense wat glo "reuse"-afslae daarop
gekry het.
Volgens Chakela is dit bekend dat tweedehandse
motors baie goedkoper is as nuwe motors. Dít geld 13 van die 33 motors op die
lys, terwyl die pryse van nuwe motors daaraan gekoppel is.
"DaimlerChrysler en Eads is aparte
maatskappye met aparte sakebelange. Om die twee steeds in dieselfde asem te noem,
is verkeerd.
"DaimlerChrysler SA en sy sustermaatskappye
het en sal altyd streng binne die wet optree. Wat die wapenondersoek betref,
werk ons ten volle saam met die ondersoek-agentskappe.
"DaimlerChrysler SA het 'n
langtermynbelegging in Suid-Afrika. Ons wil graag dié belegging behou en geen
halwe waarheid sal ons daarvan weerhou nie."
Intussen het van die sakemense op die lys gesê
hulle beskou die aangeleentheid as "niks meer as om die beste prys vir 'n
motor te beding nie" - ondanks hul betrokkenheid by die wapentransaksies.
In minstens twee gevalle was dit eerder omdat van
die betrokkenes mnr. Michael Woerfel, besturende direkteur van Eads, goed geken
en geweet het dat hy vir hulle "mededingende" kwotasies vir motors kon
beding.
Eads is 'n groepering van maatskappye in die
verdediging- en lugvaartbedryf.
Mnr. Zoli Kunene van die Kunene-groep van
maatskappye en aandeelhouer in Grintek, 'n maatskappy wat in elektroniese en
kommunikasiestelsels vir die militêre en siviele mark spesialiseer, het op die
aantyging dat hy drie voertuie teen afslagpryse deur Eads bekom het, aan Beeld
gesê hy kan dit "maklik verduidelik".
Hy het verlede jaar 'n Mercedes-Benz (MB) ML320
deur Woerfel se bemiddeling gekoop, "omdat ek groot vriende met hom
was". Hy het dié motor later vir 'n tweedehandse ML430 ingeruil.
Volgens Kunene het hy verlede jaar ook 'n
tweedehandse Colt-bakkie deur Woerfel aangekoop vir 'n broodafleweringskema by
Orange Farm. "Dié opheffingskema se bakkie is gesteel en ek is genader om
hulp. Ek het weer vir Michael gevra of hy kan help. Hy het vir my die kwotasie
gegee en ek het die bakkie uit my eie sak gekoop. Ek het dit aan die
selfhelpskema geskenk."
Volgens Kunene het
sy groep van maatskappye self 'n MB-tak, McCarthy's Kunene Witbank. "Ons
verbintenis met Mercedes-Benz kom dus al 'n lang pad."
Mnr. Llew Swan, voormalige uitvoerende hoof van
Krygkor wat na bewering afslag op 'n MB ML320 gekry het in 'n soortgelyke
voorkeurtransaksie, het gister gesê "as sakeman beding ek altyd vir afslag".
Dieselfde geld sy motor. "Ek het 'n kwotasie
by BMW gekry toe ek (in Junie 1999) 'n werkmotor kon aanskaf. Omdat ek vir
Michael geken het, het ek hom ook gevra vir 'n kwotasie. "Ek het nié vir
hom gevra vir 'n spesiale prys of afslag nie, maar almal het geweet dat jy 'n
goeie prys by hom kon kry.
"Ek het daarna vir mnr. Ron Haywood (voorsitter
van Krygkor) gesê van my voorneme (om deur Woerfel 'n motor te koop) en hy het
dit goedgekeur. Daar was niks vreemds aan die transaksie nie."
"Dit slaan my dronk dat 'n lys van name -
waarvan 'n hele paar vanjaar, meer as twee jaar nadat die transaksies deur die
kabinet goedgekeur is - sou baat by 'n verskaffer wat nie eens een van die
hoofkontrakte losgeslaan het nie."
Eads het tenders ingedien vir die verskaffing van
die helikopters, vir die veg- en die vegopleidingsvliegtuie, sowel as vir die
missiele en die radars vir die korvette, maar geeneen van dié kontrakte gekry
nie.
Die maatskappy het uiteindelik deur Reutech,
waarin hy 'n aandeelhouer is, 'n radarsubkontrak ter waarde van sowat R430 miljoen
verkry.
With acknowledgement to Erika Gibson and Beeld.