Publication: Die Beeld Issued: Date: 2001-05-04 Reporter: George Claassen Editor:

Ou Skandale se Spoke Loop weer in Wapen-Sage


Publication  Die Beeld
Date 2001-05-04
Reporter George Claassen
Web Link www.news24.co.za

   

Kort voor twaalfuur op Donderdag 2 November 1978 verlaat regter Anton Mostert die kantoor van 'n ontstelde eerste minister P.W. Botha in die Uniegebou in Pretoria om 'n verklaring uit te reik wat die grootste politieke skandaal in Suid-Afrika se geskiedenis sou oopvlek.

Enkele maande tevore is Mostert deur Botha as eenmankommissie aangestel om beweerde valutaoortredings en belastingontduiking te ondersoek - 'n aanstelling wat genoodsaak is deur deurtastende ondersoeke in die pers wat die departement van inligting betrek het by 'n propagandaoorlog om apartheid oorsee met geheime staatsgeld te bemark.

Mostert het die versoek van Botha en die minister van finansies, dr. Owen Horwood, geïgnoreer om nie die inligting aan die media bekend te maak nie. Om eenuur het hy die bom laat bars dat die staat R12 miljoen aan die sakeman mnr. Louis Luyt "geleen" het om 'n Engelse dagblad, The Citizen, te begin wat die regering se standpunt oor apartheid sou kon weergee.

Meer as ses jaar tevore, om negeuur op Saterdagoggend 17 Junie 1972 word Bob Woodward, 'n verslaggewer met net nege maande ondervinding by The Washington Post, gewek deur 'n telefoonoproep. Die stadsredakteur deel hom mee dat vyf mans in die Watergate-gebou, hoofkantoor van die Demokratiese Party in die VSA, aangekeer is met fotografiese toerusting en elektroniese meeluisterapparaat in hul besit.

Mostert se verklaring het die finale ontrafeling begin van wat bekend geword het as die Inligtingskandaal of Muldergate (dr. Connie Mulder was minister van inligting), wat sou lei tot die bedanking van Mulder in November 1978 en staatspres. B.J. Vorster in Junie 1979.

Woodward sou met nog 'n Washington Post-verslaggewer, Carl Bernstein, die leidende rol speel in 'n ondersoek wat sou uitloop op die bedanking op 9 Augustus 1974 van die VSA se pres. Richard Nixon.

Die Inligtingskandaal het in die wyse waarop dit ontvou het, heelwat ooreenkomste getoon met die stelselmatige bekendmaking van ongerymdhede in die Watergate-skandaal - kenmerke wat nou weer waarneembaar is in Suid-Afrika se jongste wapenskandaal.

Die redakteur van The Washington Post tydens die Watergate-skandaal, Ben Bradlee, skryf in sy outobiografie, A good life, dat hy in die ondersoek na Watergate een van die kardinale reëls van die ondersoekende joernalistiek herhaaldelik aan Woodward en Bernstein benadruk het: dat in elke skandaal altyd een van twee dinge gesoek moet word: óf geld óf 'n vrou.

Die geld betrokke by dié skandaal was afkomstig van CRP, ook bekend as Creep (committee for the re-election of the president) wat die Watergate-inbrekers gefinansier het.

Die Inligtingskandaal se verhaal wentel om geld, geheime fondse soos dié van Creep waarvoor geen kwitansies gehou is nie. Dit is die storie van die Rhoodie-broers, Eschel, Denys en in mindere mate Nic. Almal het finansiële voordeel getrek uit die Vorster-regering se pogings om apartheid aan die buitewêreld te verkoop.

By albei skandale het die media, maar veral uitmuntende persjoernaliste, die gerugte van presidensiële en staatsbetrokkenheid ondersoek om grootskaalse politieke toesmeerdery aan die kaak te stel.

Die Nasionale Party van Vorster en sy opvolger, Botha, het sedert 1971 gerugte ontken dat die tydskrif To the Point - wat met Time en Newsweek probeer meeding het - deur Rhoodie met staatsgeld as propagandatydskrif gefinansier is.

Die skandale toon opmerklike patroonmatigheid (ook met wat besig is om te ontvou in die huidige wapenskandaal):

 Die pers speel 'n kardinale rol om die skandale oop te vlek namens die belastingbetalende publiek.

In die Watergate-skandaal is Woodward en Bernstein goed ondersteun deur die bestuurspan van The Washington Post, onder wie Bradlee en die uitgewer Katharine Graham.

Die topjoernaliste wat die Inligtingskandaal blootgelê het, was Kitt Katzin van die Sunday Express, en Mervyn Rees en Chris Day van die Rand Daily Mail, die anti-apartheidskoerant van Johannesburg wat die meeste kon skade ly met die totstandkoming van The Citizen.

In albei gevalle, soos ook nou met die wapenskandaal, is die joernaliste deur politici en amptenare verguis.

Die bekendste voorbeelde was die berugte tweevingerteken wat dr. Eschel Rhoodie op 'n Pretoriase tennisbaan aan 'n fotograaf van die Pretoria News gewys het; en die woorde van Nixon se prokureur-generaal, John Mitchell, aan Bernstein toe hy hom halftwaalf in die nag geskakel het met die nuus dat The Washington Post die volgende dag 'n berig sou dra wat beweer dat Mitchell die geheime fonds van die Republikeine beheer het om op die Demokratiese Party te spioeneer: "Al daardie gemors, gaan jy dit in die koerant sit? Katie Graham gaan haar t * * t vasgevang kry in 'n groot, vet drukpers as dit gepubliseer word."

 Die regters of ondersoekers wat van hul pligte onthef is:

Nixon het die spesiale ondersoeker Archibald Cox afgedank toe hy te warm op die spoor van The Washington Post se openbarings begin ingaan het. Mostert is 'n week ná sy onthullings deur Botha sywaarts geskuif en deur 'n nuwe kommissie vervang.

Vandag aanvaar politieke historici dat regter Rudolph Erasmus se kommissie sy werk net half gedoen het en die Rhoodies, Vorster, Mulder en die hoof van die veiligheidspolisie, genl. Hendrik van den Bergh, die sondebokke gemaak het, terwyl daar genoeg bewyse was dat Botha, Horwood en ander kabinetslede geweet het van die geheime geld.

Politici wat by skandale betrokke is, gebruik gewoonlik "vriendelike" ondersoekers of kommissies wat na aan die party staan om 'n skyn van skoon regering te gee. Met die wapenskandaal word beweer dat regter Willem Heath juis om dié rede nie verder by die ondersoek betrek is nie. Daar is reeds sprake dat "mindere" amptenare die sondebokke gemaak sal word.

 Die tyd wat die proses neem om te ontrafel, is gewoonlik lank, veral weens politici se uiterste pogings om sake toe te smeer.

Nixon het eers byna 26 maande ná die Watergate-inbraak bedank. Mulder het eers in November 1978 bedank ná Mostert se onthullings - byna agt jaar nadat Eschel Rhoodie in 1971 as persattaché van Suid-Afrika se ambassade in Den Haag 'n geheime ooreenkoms met 'n Nederlandse uitgewer, Hubert Jussen, gesluit het om To the Point met regeringsgeld te begin.

En Vorster het geloop ná Erasmus se tweede verslag in Junie 1979.

Vir die pers wat hoofsaaklik die ondersoekers is in die wapenskandaal - kommissies van ondersoek of aanklaerondersoeke is by Watergate en Muldergate eers aangestel nadat die pers grootskaalse ongerymdhede blootgelê het - wag daar, as die patrone van vorige ondersoeke herhaal word, moontlik nog 'n lang en intensiewe grawery.

En selfs dan kan die klein vissies vir die publiek gevoer word om die groot visse te red. 

 

With acknowledgment to George Claasen and News24.