Vra die Regte Vrae oor die Wapens, maan Welz |
Publication | Die Beeld |
Date | 2001-04-27 |
Web Link | www.news24.co.za |
Kaapstad. Die
Suid-Afrikaanse media en publiek moet die regte vrae oor die huidige
wapentransaksies stel as hulle nie die grootste foute van die inligtingskandaal
wil herhaal nie, het Martin Welz, redakteur van Noseweek, eergister gesê.
Welz het aan die Kaapstadse Persklub gesê terwyl
die media en publiek hulle in die jare sewentig verlekker het in stories oor drr.
Connie Mulder, Eschel Rhoodie en 'n skandaal van R60 miljoen, het hulle die
eintlike vraag misgekyk.
As die R60 miljoen vir die verspreiding van
inligting uit die verdedigingsbegroting gekom het, hoeveel ander geld was daar
en wat was die doel van dié aanwending?
Dié vraag is egter nooit aan die regering en
ander rolspelers gestel nie.
Volgens Welz het die fokus op die
inligtingskandaal die destydse regering in staat gestel om wapens
van sowat R60 miljard vir die weermag te koop.
Dié aankope laat Suid-Afrika vandag nog onder 'n
skuldlas steier.
Verder het die aandag wat die inligtingskandaal
getrek het, 'n oordrag van mag beteken van die koukusse en die polisie onder die
bewind van adv. John Vorster na die sekurokrate van die weermag onder mnr. P.W.
Botha.
Welz sê oor die onlangse wapenaankope moet gevra
word wat die rede daarvoor is omdat die omvang daarvan veel groter is as wat
Suid-Afrika benodig.
Hy het 'n lys opgetrek van almal wat by elke fase
van die transaksie en onderhandelings betrokke was.
Dít is waar die organogramme vandaan kom wat
oudpres. Nelson Mandela kwaad genoeg gemaak het om sy rol as beskermer van die
Heath-eenheid te laat vaar, het Welz gesê.
Die pogings om regter Willem Heath uit die
ondersoek te weer, was onmiddellik daarna suksesvol.
Daar is volgens Welz omtrent drie redes waarom
wapentuig aangekoop kan word: iemand wil Suid-Afrika aanval, Suid-Afrika wil 'n
ander land aanval, of die weermag voel instandhouding is nodig want as verval
plaasvind, is herstelwerk baie duur en ingewikkeld.
Met die eerste opsie onwaarskynlik, meen Welz
pres. Thabo Mbeki moet sê as hy 'n ``Napoleon'' wil wees. Anders is die
instandhouding van die weermag die enigste moontlikheid.
Indien dit só is, sê Welz, sou 'n mens moet vra
waarom soveel miljarde rand benodig word, veral in lig van onlangse stellings
deur dr. Laurie Nathan, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir
Konflikoplossing. Hy het in die Cameron-kommissie gedien wat aanvanklik
wapenhandel ondersoek het.
Nathan het onlangs gesê twee van dié kommissie
se aanbevelings was dat die weermagbegroting nie vergroot word nie en
wapenaankope deur die parlement goedgekeur word.
Daarvan, sê Welz, het dadels gekom.
Ander vrae wat hy meen gestel behoort te word,
sluit in wat die rol van die motorvervaardiger DaimlerChrysler in die
wapenkwessie is, asook wat die belang van die ANC en leidende politici is by die
gebeure, veral betreffend die rol van mnr. Chippy Shaik, aanskaffingshoof in die
departement van verdediging.
Welz het gevra waarom Mbeki die aankoop van
Spaanse skepe, wat gepas sou wees vir plaaslike behoeftes, afgekeur het, maar
dat Duitse fregatte wat drie keer duurder is en te gevorderd is vir plaaslike
behoeftes, steeds in die visier is.
Met erkenning aan Die Beeld en News24.