Publication: Rapport Issued: Date: 2002-01-26 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Ouditeur-Generaal "Sit op Verslae om Kabinetslid te Beskerm"

 

Publication  Rapport
Date 2002-01-26
Reporter

Andries Cornelissen

Web Link www.news24.co.za

 

Mnr. Shauket Fakie, ouditeur-generaal (OG), beskerm iemand in die kabinet deur nie die konsepverslae oor die wapenondersoek beskikbaar te stel nie, sê dr. Richard Young, besturende direkteur van C²I².

Dié maatskappy het 'n multimiljoenrandkontrak in die wapentransaksie verloor nadat 'n risikobedrag by sy tender getel is, hoewel die maatskappy aanvanklik as voorkeurtender gekies is.

Young meen die feit dat pres. Thabo Mbeki vir Fakie as ouditeur-generaal aangestel het terwyl Mbeki ook aan die stuur van die wapentransaksie was, beteken Fakie kan nie onafhanklik besluite oor die wapenondersoek neem nie.

Volgens Young het betroubare informante hom hieroor gewaarsku.

Young is nie tevrede met Fakie se redes waarom hy nie die dokumente kan kry nie. Hy meen dis sy reg, soos bepaal in die Wet op Toegang tot Inligting.

Fakie sê in 'n brief aan die maatskappy dat die onderneming te veel dokumente vra. Die OG se kantoor het glo nie die hulpbronne daarvoor nie.

Die dokumente is ook vertroulik aan die OG gegee en dit bevat onder meer sensitiewe inligting oor Suid-Afrika se verdedigingsbehoeftes.

Young se prokureurs gaan nou appèl aanteken by die ouditkommissie onder die voorsitterskap van dr. Pallo Jordan.

"Ek gee nie om hoe lank dit duur nie. Ons gaan die dokumente op 'n wettige wyse kry."

Hy het ook aangebied om die salaris te betaal van iemand wat al die vertroulike dokumente wat hy nie mag sien nie, verwyder.

Ingevolge die wetgewing moet Young eers alle interne prosedures volg voordat hy die hooggeregshof vra om 'n bevel dat hy die dokumente kry.

Young het met reuse-eise teen die staat gedreig oor sy verlies weens die tenderprosedure in die wapentransaksie.

Met erkenning aan Andries Cornelissen and Rapport.