Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-10-09 Reporter: Erika Gibson en Dries Liebenberg Editor:

Span Slaan Wyd Toe oor Wapens

 

Publication  Die Burger
Date 2001-10-09
Reporter Erika Gibson en Dries Liebenberg
Web Link www.news24.co.za

 

 

Johannesburg- Die span wat beweerde onreëlmatighede in die R43 miljard se wapentransaksies ondersoek, het gister die tweede keer in 'n week toegeslaan toe hulle gelyktydig in Frankryk, Mauritius en in Durban op dokumente oor die transaksies beslag gelê het.

Die dokumente word verbind met "moontlike oortredings voortspruitend uit die wapenondersoek", het mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, in 'n verklaring gesê.

Die huis en kantore van mnr. Schabir Shaikh is in Durban deurgesoek, sowel as die kantore van sy maatskappy, die Nkobi-groep.

Shaikh word hoofsaaklik verbind met die toekenning van die multimiljoenrand-kontrak vir die gevegsuites van die nuwe vlootkorvette.

Hy is die broer van mnr. Chippy Shaikh, hoofwapenaanskaffer van die weermag en een van die sleutelfigure in die wapenondersoek.

Dit volg kort op die inhegtenisneming van mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, op klagte van korrupsie, bedrog, meineed en vervalsing wat met die wapenondersoek verband hou.

Ondersoekers van die direktoraat van spesiale operasies het met die Franse en die Mauritiaanse polisie saamgewerk toe die deursoekings gisteroggend vroeg in Durban, Parys, dorpe in Frankryk en in Port Louis, Mauritius, plaasgevind het.

Inligting dat die dokumente waarop beslag gelê is, nodig sou wees in die ondersoek, is glo geruime tyd reeds duidelik.

Die nodige diplomatieke toestemming moes egter eers verkry word, het Die Burger verneem.

Die onderskeie lande se polisie het die deursoekings behartig, terwyl die Suid-Afrikaanse ondersoekers die dokumente in ontvangs geneem het.

Die dokumente hou verband met African Defence Systems (ADS), as subkontrakteur vir die korvette se gevegsuites; Futuristic Business Solutions (FBS), betrokke by sekere teenhandelsooreenkomste; en Thomson CSF, 'n Franse maatskappy met die meerderheid van die aandele in ADS.

Mnr. Schabir Shaikh se huis en Nkobi se kantore in Durban, sowel as dié van Nkobi se prokureurs, Ditz Incorporated, en die huis van mnr. Colin Isaacs, finansiële direkteur van Nkobi, is gisteroggend deurgesoek.

Die deursoekings van Nkobi se kantore aan die Durbanse waterkant was gisteraand nog aan die gang. Volgens Ngwema was dit moontlik dat lede van die ondersoekspan toe klopjagte op nóg persele kon uitvoer aan die hand van inligting wat hulle bekom het.

Lede van die ondersoekspan wat vroegmiddag by Nkobi se kantore opgedaag het met talle kartonhouers in die hand, was teen sesuur die aand steeds besig met die deursoeking.

'n Volledige oudit van die dokumentasie sou oornag gedoen word en nader besonderhede oor die klopjagte sal volgens Ngwema vandag bekend gemaak word.

Volgens 'n werknemer van Nkobi was Shaikh nie gistermiddag tydens die deursoeking in Nkobi se kantore nie.

Kommentaar kon nie van die maatskappy of Ditz verkry word nie.

In Frankryk is toegeslaan op die kantore van Thales International, die houermaatskappy van Thomson CSF, en die huise van twee senior direkteurs van Thomson CSF se Suider-Afrikaanse tak, mnre. Jean-Paul Perrier en Alain Thetard.

In Mauritius is kantore van Thales International Africa, Valmet Mauritius, waar nog kantore van Thales geleë is, en nog 'n huis van Thetard deurgesoek.

Niemand is in die jongste optrede ondervra nie. Volgens Ngwema is lasbriewe vir die optrede bekom omdat daar redelike gronde was dat dokumente wat die ondersoek kan bevorder, op die genoemde persele was.

Dit beteken nié dat die eienaars van die persele van enige misdryf verdink word nie, het Ngwema gesê.

Na verneem word, was gisteroggend se optrede - net soos Yengeni se inhegtenisneming - onverwags vir die betrokkenes. Dit versterk die vermoede dat nog mense binnekort in hegtenis geneem kan word, het Die Burger verneem.

 Mnr. Michael Woerfel van die European Aerospace and Defence Systems (Eads) verskyn môre op aanklagte van korrupsie en vervalsing in die Pretoriase handelshof.

Die aanklagte hou verband met dié teen Yengeni nadat Woerfel na bewering 'n luuksemotor teen 47%- afslag by Eads se sustermaatskappy, DaimlerChrysler SA, vir Yengeni bekom het in ruil vir die beweerde begunstiging van Eads in die toekenning van die wapenkontrakte. 

With acknowledgment to Erika Gibson, Dries Liebenberg, Die Burger and News24.