Staat Bal sy Vuis deur Yengeni se Klag van Meineed eers te Los |
Publication | Rapport |
Date | 2002-01-26 |
Reporter |
Andries Cornelissen |
Web Link | www.news24.co.za |
Die klag van statutêre meineed teen mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, is om tegniese redes teruggetrek om seker te maak hy en sy medebeskuldigde, mnr. Michael Woerfel, word saam verhoor.
Yengeni kan steeds later van statutêre meineed aangekla word.
Net Yengeni is van meineed aangekla en dié beweerde misdaad is nie op dieselfde tyd en plek gepleeg as die beweerde korrupsie en vervalsing wat met Yengeni se Mercedes-Benz ML320 verband hou nie.
Woerfel se regspan kan ingevolge die strafproseswet "wanvoeging" in die hof aanvoer en het reeds "navraag" gedoen oor die klag van statutêre meineed.
Adv. Jan Henning, SC, aanklaer, het gesê dié aanklag is 'n bysaak vergeleke met die korrupsie en bedrog en daarom is dit teruggetrek.
Daardeur bly die staat aan die veilige kant omdat die korrupsieklag die eerste prys is. Deur Woerfel en Yengeni saam te verhoor, kan hulle ook teen mekaar "gebruik" word.
Dít gee ook nie aan Yengeni en Woerfel se swaargewig-regsverteenwoordigers, onderskeidelik adv. Hilton Epstein, SC, en adv. Michael Hellens, SC, van Johannesburg, die kans vir lang argumente oor die meineedklag wanneer die hofsaak begin nie.
Die staat beweer Yengeni het statutêre meineed gepleeg toe hy in Junie verlede jaar aan die Skerpioene gesê het die motor het R230 052 gekos, was beskadig, dat hy daarom afslag gekry het en dat hy 'n deposito van R50 000 betaal het.
Volgens die staat was die koopprys R182 56, was dit nie beskadig nie en het hy nie 'n deposito betaal nie. Yengeni het dus afslag van R167 000 gekry.
Yengeni is in die hof ondersteun deur mnr. Ntsiki Mashimbye, ANC-LP. Hy het Yengeni opgevolg as voorsitter van die parlement se staande komitee oor verdediging.
Die verhoor is tot 15 Maart uitgestel en albei beskuldigdes se borgtog van R10 000 is verleng.
Mnr. Chippy Shaik, hoofaankoper van die weermag ten tyde van die wapentransaksie, sê hy gaan 'n bevinding van 'n ondersoekspan teëstaan dat hy vertroulike inligting in die ouditeur-generaal se konsepverslag oor die wapenondersoek openbaar gemaak het.
Sapa berig mnr. Zam Titus, direkteur-generaal van provinsiale en plaaslike regering en voorsitter van die ondersoekspan, sal eerskomende week besluit oor Shaik se straf.
Mnr. January Masilela, sekretaris van verdediging, sal waarskynlik die aankondiging doen.
Mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, het verlede jaar aan Shaik 'n afskrif van die verslag gegee vir kommentaar. Hy het dit aan sy prokureurs gegee, wat dit met mnr. Shauket Fakie, ouditeur-generaal, bespreek het.
Shaik se broer, Schabir, word van 27 tot 31 Mei in die Durbanse streekhof verhoor op aanklagte van diefstal van kabinetsdokumente.
Hy is in November verlede jaar in hegtenis geneem.
Mnr. Schabir Shaik, wat betrokke is by maatskappye wat kontrakte losgeslaan het in die wapentransaksie, hou vol dat daar politieke motiewe vir sy vervolging is. Hy is adj. pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer.
Sekere groepe wil Zuma diskrediteer deur hom te laat vervolg, sê hy.
Hy beskuldig dr. Penuell Maduna, minister van justisie, daarvan dat hy die Skerpioene vir sy eie doeleindes gebruik. Die departement van justisie het dit as "snert" bestempel.
Met erkenning aan Andries Cornelissen and Rapport.