Publication: Die Beeld Issued: Date: 2001-05-07 Reporter: Erika Gibson Editor:

Veertig Getuig oor Wapens


Publication  Die Beeld
Date 2001-05-07
Reporter Erika Gibson
Web Link www.news24.co.za

   

Sowat 40 getuies op 'n voorlopige lys wat by die openbare verhoor na die wapentransaksies van R43,8 miljard sal verskyn, sal van Donderdag af hul amptelike kennisgewings ontvang.

Die openbare verhoor begin op 28 Mei in die hooggeregshof in Pretoria. Die getuies sluit verskeie sleutelfigure in die transaksies van die weermag en Krygkor in.

Verteenwoordigers van die verskaffers van die korvette, duikbote, vegvliegtuie en helikopters sal nié getuig nie, maar in kennis gestel word dat getuienis oor hulle aangevoer word. Hulle sal skriftelike verklarings by die verhoorpaneel kan indien.

Na verneem word, sal mnr. Tony Yengeni, destyds voorsitter van die gesamentlike komitee oor verdediging en beweerde ontvanger van 'n Mercedes-Benz voortspruitend uit die transaksies, ook voorlopig nie getuig nie.

Dít is omdat die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) besig is met die strafregtelike deel van die wapenondersoek en hy glo daarin geïmpliseer word. Die parlement se etiese komitee is ook besig met 'n ondersoek na die versuim om glo sekere besittings, soos die motor en 'n huis, te verklaar.

Lt.genl. Willem Hechter, voormalige hoof van die lugmag, sowel as vise-adml. Robert Simpson-Anderson, voormalige hoof van die vloot, sal waarskynlik as die eerste agtergrondgetuies opgeroep word.

Nie een van dié twee is "verdagtes" in die ondersoek nie. Hulle was hoof van die vloot en lugmag sedert die begin van die aanskaffingsprogram.

Ná hulle sal mense soos die voormalige ministers van verdediging, van handel en nywerheid en van finansies én hul opvolgers opgeroep word. Ook sal mnr. Chippy Sheik, hoof van wapenaanskaffing in die weermag, mnr. Sipho Thomo, destyds bestuurder van aankope en nou senior uitvoerende beampte van Krygkor, mnr. Llew Swan, vorige hoof van Krygkor, mnr. January Masilela, sekretaris van verdediging, en sy hoof van finansies, mnr. Jack Grundlingh, en mnre. Dawie Griessel, Johan van Dyk, Kevin Hanasey en Fritz Nortjé, almal van Krygkor en betrokke by verskeie fasette van die aanskaffingsprogram, opgeroep word.

Van die weermag sal senior offisiere soos skoutadmls. Chubby Howell, Johnny Kamerman, Keg Verster en Derek Dewey - ook almal projekoffisiere - getuig, sowel as brig.genl. Otto Schür, hoof van vliegtuigaanskaffing vir die lugmag.

Die lys van getuies kan glo aangepas word na gelang van die bevindings uit die kriminele ondersoek deur die NV en die forensiese ondersoek deur die ouditeur-generaal. Dié twee agentskappe, sowel as die NV, sal elk een verteenwoordiger in die verhoorpaneel hê. 

 

With acknowledgment to Erika Gibson and News24.