Publication: Rapport Issued: Date: 2001-10-21 Reporter: Eugene Gunning Editor:

Verslag oor Wapentransaksie kan Bevraagteken word

 

Publication  Rapport
Date 2001-10-21
Reporter Eugene Gunning
Web Link www.sundaytimes.co.za

Die geloofwaardigheid van die verslag oor die ondersoek na die wapenkontrak van meer as R50 miljard kan in die oë van die publiek in gedrang kom nog voordat dit in die parlement ter tafel gelê is.

Só waarsku dr. Gavin Woods, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Woods is ongelukkig nadat dit bekend geword het dat pres. Thabo Mbeki en sekere lede van die kabinet reeds insae gehad het in ‘n voorlopige verslag oor die forensiese ondersoek.

Woods benadruk dat hy nie vinger wys of mense vals wil beskuldig nie, maar die feit is dat Skoor in die duister is.

Hy is nie seker wanneer die verslag in die parlement ter tafel gelê gaan word en of dit wel na Skoor verwys gaan word nie. Mnr. Shauket Fakie, die ouditeur-generaal, het wel aan die komitee gesê die verslag sal voltooi wees voordat die parlement vanjaar verdaag.

"Dit lyk of die verslag wat na Mbeki en lede van die kabinet geneem is in ‘n redelik onvoltooide stadium was.

"Dit wek agterdog. Mense kan die geloofwaardigheid van die verslag bevraagteken.

"Dit is jammer dat die ouditeur-generaal Skoor nie daaroor ingelig het nie."

Mnr. Vincent Smith, ANC-LP en woordvoerder oor Skoor, sê dis in die private en openbare sektor praktyk dat ouditeurs die mense inlig oor wie die oudit gedoen is.

Hy weet Mbeki en die betrokke ministers het insae in sekere dele van die verslag gehad en daar is niks vreemds daarin nie.

Smith sê dis die prerogatief van die speaker, dr. Frene Ginwala, om te besluit wat met die verslag gebeur wanneer dit in die parlement ter tafel gelê word.

Hy is ten gunste daarvan dat Skoor dit bespreek.

Fakie sê hy het ‘n deel van die verslag aan Mbeki en sekere ministers voorgelê.

"Daar is niks vreemds aan nie. Dis normale prosedure. Ek het dit gedoen om seker te maak dat die feite korrek is."

Hy is baie ongelukkig omdat daar ‘n "mate van ‘n politieke agenda" is by sommige mense wat op loop gaan sonder om die feite te kontroleer.

Fakie sê die mikpunt is steeds om die verslag aan die einde van die maand aan die parlement voor te lê.

Intussen het me. Raenette Taljaard, DA-woordvoerder in Skoor, Vrydagmiddag ‘n brief aan Fakie gestuur waarin sy vra dat hy alle feite oor die verslag op die tafel lê, berig Jacob Rooi.

Sy wil weet wanneer Mbeki en die vier ministers wat vroeër vanjaar voor Skoor oor die wapenaankope getuig het, dit onder oë gehad het.

Sy wil ook weet of enige wysigings aangebring is en of daar ontmoetings was oor die verslag tussen hom en die uitvoerende gesag.

With acknowledgement to Eugene Gunning and Rapport.