Publication: Beeld Issued: Date: 2001-07-16 Reporter: JanJan Joubert Editor:

Yengeni sê Niks oor Advertensies in Vier Koerante


Publication  Beeld
Date 2001-07-16
Reporter Jan-Jan Joubert
Web Link www.news24.co.za

 

Kaapstad. - Vrae rondom die inhoud van die advertensie wat mnr. Tony Yengeni, ANC-hoofsweep, die afgelope naweek in die pers geplaas het oor sy betrokkenheid by die regering se wapentransaksie het Maandag verdiep terwyl Yengeni nie beskikbaar was om duidelikheid oor die kwessie te verskaf nie.

Die departement van minerale en energie het Maandag gesê dat geen politici uit die vorige bedeling ondersoek word omdat hulle finansieel voordeel getrek het uit olietransaksies tydens die apartheidera, soos Yengeni oor die naweek beweer het nie.

Mnr. Kanyo Gqulu, departementele woordvoerder, het gesê die kwessie sal ondersoek word indien daar gronde vir die bewerings bestaan, maar intussen moet vrae maar aan Yengeni gerig word.

Terwyl kritiek uit opposisiegeledere neergereën het oor hy nie eerder sy kans gebruik het om in die parlement of aan die pers te antwoord op bewerings nie, was Yengeni nie gister beskikbaar nie. Personeellede het navrae verwys na Yengeni se raadgewer, mnr. Themba Nobatana, wie se selfoon die heeldag af was.

Yengeni se prokureur, mnr. Thabo Kinana, kon nie antwoorde verskaf oor wie betaal het vir die advertensies, waarvan die gesamentlike waarde in vier Sondagkoerante sowat R250 000 beloop het nie.

Oor die feit dat die advertensie slegs verwys na die maatskappy Daimler Chrysler Aerospace (DASA), wat 'n luukse motor teen afslag aan Yengeni verskaf het, en daar geen verwysing is na European Aeronautical Defence Systems (EADS), die verwante maatskappy wat suksesvol getender het vir 'n deel van die wapenkontrak nie, het Kwinana gesê soos hulle dit verstaan was dit twee aparte maatskappye toe die motor aan Yengeni beskikbaar gestel is.

Kwinana het nie uitgebrei oor waarom die finansierder Stannic geweier het om die aankoop van die Mercedes teen afslag te finansier nadat Yengeni reeds voorheen die eienaar van "omtrent" twee Mercedes-Benze was nie.

'n Ander kwessie waaroor Kwinana nie wou uitwei nie, was wie die politici was na wie Yengeni verwys het as sou hulle geldelike voordeel getrek het uit olietransaksies.  

With acknowledgement to Jan-Jan Joubert and Die Beeld.