Vreemdste Hoofstuk in Wapensage |
Publication | Rapport |
Date | 2001-12-02 |
Reporter | J.J. van Wyk |
Die beweerde vergadering van 19 Augustus 1999' - dit is die opskrif van seker een van die vreemdste hoofstukke in die verslag oor die ondersoek na beweerde ongerymdhede in Suid-Afrika se wapentransaksie van R66 miljard.
Want besonderhede oor wat gebeur het op dié vergadering van die projek-beheerraad (PBR) - wat onder meer moes besluit oor die toekenning van kontrakte vir die verskaffing van vier vloot-korvette en subkontrakte vir dié oorlogskepe se stelsels - kan baie vrae opklaar random die broers Shamin (Chippy) en Shabir Shaik en beweerde bevoordeling deur Chippy Shaik van maatskappye waarby sy broer Shabir belange het.
Dis nou as die vergadering wel gehou is en die opstellers van die verslag daarvan oortuig kan word.
Want op plekke in die verslag lyk dit asof hulle daarop uit is om regstreekse, onbetwiste getuienis oor die vergadering deur twee lede van die gesamentlike projekspan (GPS), skout-admiraal J. Kamerman en mnr. F. Nortjé van Krygkor, te weerlę.
Kamerman en Nortjé het tydens die ondersoek getuig oor ‘n "spesiale" vergadering wat glo byeengeroep is deur mnr. L. Swan, destyds die uitvoerende hoof van Krygkor, en Chippy Shaik.
Op die vergadering waar Chippy Shaik volgens Nortje se getuienis aan die gesprek deelgeneem het, is die risiko-gradering van kontrakte vir die korvette se gevegstelsels bespreek en hulle het 'n voorlegging gedoen.
Dit is juis ‘n verandering van risiko-gradering wat daartoe gelei het dat die inligting-beheerstelsel vir die korvette, wat deels ontwikkel is met belastingbetalers se geld deur dr. Richard Young se Kaapse maatskappy CCII, "gelaai" is met 'n "risiko-premie" van R40 miljoen.
Die risiko-premie het die Young-stelsel, wat in 'n stadium die eerste keuse was, te duur gemaak vir die vloot en het uiteindelik daartoe gelei dat Young se tender misluk het.
Buiten vir suggesties dat dit op die vergadering van 19 Augustus besluit is, kon geen rekord gevind word van wanneer en deur wie die besluit geneem is nie.
Die kontrak is toe toegeken aan Detexis, wat deel is van Thomson Frankryk. Shabir Shaik, Chippy se broer, het sterk sakebande met die groep en hou aandele in Thomson Suid-Afrika.
Thomson Frankryk en Shaik is ook aandeelhouers in die maatskappy ADS, wat deel is van die konsortium wat die korvette verskaf en getender het op subkontrakte.
Die opstellers van die verslag word self genoop om te bespiegel dat "die vergadering, indien dit gehou is, een van die deurslaggewendste vergaderings van die projek-beheerraad (PBR) was". Maar net in die volgende paragraaf begin die afkraakproses. En dit op grond van dikwels niksseggende afleidings en veronderstellings - soos dat :
Hoewel notules gehou is van alle PBR-vergaderings, is daar van dié vergadering geen notules gevind nie. "Geen rede is vir die gebrek aangebied nie en dit is ook nie ooglopend duidelik (wat die rede daarvoor is) nie;" - dit terwyl dit logieserwys veel eerder ongewoon sou wees indien notules wel gehou is tydens 'n onbehoorlik saamgestelde vergadering waarop belangrike besluite heimlik geneem is;
Die notules van 'n vergadering op 24 Augustus terugverwys na die "vorige" vergadering op 6 Junie en "absoluut geen verwysing na 'n vergadering van 19 Augustus bevat nie";
Geen agenda vir so 'n vergadering gevind kon word nie;
Dit nie wil voorkom asof daar enige rede is hoekom so 'n vergadering vyf dae voor die gewone PBR-vergadering gehou moes word nie; en
Daarby skep die uitsluiting van sekere mense uit die vergadering twyfel oor of dit 'n behoorlik saamgestelde vergadering was en oor die kwessies wat bespreek is.
Van die mense die vergadering sou moes reël of volgens Kamerman en Nortjé teenwoordig sou gewees het, het getuig dat "geen agenda daarvoor gevind kon word nie", hulle "nie kan onthou dat hulle so 'n vergadering bygewoon het nie", en 'n derde dat daar "geen aantekening oor so 'n vergadering in sy dagboek is nie".
Insiggewend egter is dat mnr. Chippy Shaik getuig het daar was geen PBR-vergadering nie en dat toe hy Kamerman daaroor uitgevra het, die sou gesę het dit was 'n voorligtingsvergadering oor "die kontraktuele risiko en die kontraktuele model vir die uitvoerende hoof van Krygkor".
"Dit skep ernstige twyfel oor die geloofwaardigheid van adm. Kamerman en mnr. Nortjé se weergawes," is die slotsom in die verslag.
Nortjé wou geen kommentaar lewer oor sy beweerde leuenagtigheid nie. Hy is deur Krygkor verbied, het hy aan Rapport gese. Kamerman kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.
Vir Young en CCII is dit water op sy meul vir sy beoogde eis van honderde miljoene rande teen die departement van verdediging en ander betrokkenes wat hy vroeg aanstaande jaar in die hooggeregshof gaan indien.
Met erkenning aan Christelle Terreblanche en Rapport.