Wapenbaas Geskors |
Publication | Beeld |
Date | 2001-07-05 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Mnr. Michael Woerfel, besturende direkteur van
European Aeronautic Defence and Space (EADS), die wapenverskaffer wat midde-in
die wapenskandaal beland het weens beweerde motorafslag wat vir hooggeplaastes
gereël is, is Donderdagaand uit sy pos geskors.
Die skorsing is volgens 'n woordvoerder van EADS
deels omdat daar vir sy veiligheid gevrees word. 'n Radiostasie het gistermiddag
al sy persoonlike kontakbesonderhede en telefoonnommers op die lug aan
luisteraars verskaf om hul mening oor die kwessie aan hom oor te dra.
Me. Zeona Motshabi, woordvoerder van EADS, het
gisteraand gesê Woerfel is nie afgedank nie.
"Hy is tot verdere kennisgewing geskors
totdat die ondersoek na die bewerings in Suid-Afrika afgehandel is.
Terselfdertyd wil EADS steeds sy volle samewerking met die ondersoekspan
bevestig.
"Dieselfde geld Michael se beskikbaarheid om
enige tyd deur die wapenondersoekers ondervra te word en verdere inligting te
verskaf."
Volgens haar is die besluit deur EADS se
korporatiewe hoofkantoor in München, Duitsland, geneem.
Woerfel was na bewering die middelman in die
afslagmotordebakel deurdat hy aan betrokkenes in die wapenbedryf, in die
politiek en in die weermag, spesiale afslag - in sommige gevalle glo selfs meer
as 40% - verskaf het om motors by DaimlerChrysler SA te bekom. Dié maatskappy
en EADS is sustermaatskappye.
Al die betrokkenes
het tot dusver ontken dat die spesiale afslag enigiets te make gehad het met beïnvloeding
om ten gunste van EADS te besluit in die aanloop tot die sluiting van die
wapentransaksies.
With acknowledgement to Erika Gibson and News24.