Publication: Rapport Issued: Date: 2001-10-14 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Shaik se Wapendokumente laat ANC Sidder

 

Publication  Rapport
Date 2001-10-14
Reporter Andries Cornelissen
Web Link www.news24.co.za

 

Die wapenondersoek het inligting opgelewer van sterk bande tussen ANC-leiers en top-regeringsamptenare met mnr. Schabir Shaik, omstrede Durbanse sakeman en rolspeler in die wapentransaksie wie se huis en kantore die afgelope week deurgesoek is.

Rapport verneem sommige ANC-politici is diep bekommerd oor die inhoud van dokumente waarop die Skerpioene beslag gelê het.

Shaik se betrokkenheid en invloed strek tot diep in die ANC en die regering. Groot staatskontrakte is aan hom en sy ondernemings toegeken.

Hy bestuur onder meer die persoonlike finansies van adj.pres. Jacob Zuma.

Mnr. Pravin Gordhan, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het bevestig dat sy swaer, mnr. Silvendra Raju, vir Shaik werk.

Hy het ook bevestig dat hy (Gordhan), op versoek van Shaik, 'n "belastingprobleem" van Shaik se skoonfamilie se klere-onderneming opgelos het.

Volgens mnr. Fani Zulu, SAID-woordvoerder, is dit deel van die SAID se oop-deur-beleid om belastingbetalers te help met probleme.

Shaik het ook bande met mnr. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer. Hy is voorsitter van Prodiba, wat saam met Thomson-CSF bedryf word.

Dié maatskappy het in 1998 die kontrak van R273 miljoen gekry om die land se nuwe kaart-rybewyse te vervaardig, hoewel Thomson-CSF geen ervaring van so 'n projek gehad het nie.

Politici vrees finansiële ongerymdhede wat wyer as die wapenondersoek strek, kan aan die lig kom.

Die moontlikheid dat dié inligting tot verdere ondersoeke kan lei, word ook genoem.

Shaik skenk ook gereeld geld aan die ANC in KwaZulu-Natal.

Luidens dokumente wat "bekommerde ANC-lede" opgestel het en in die begin van die wapenondersoek aan ondersoekers gegee is, was Shaik 'n fondsinsamelaar vir die ANC, maar oudpres. Nelson Mandela was glo nie gelukkig met sy optrede nie.

Mnr. Sipho Gabashe, sekretaris-generaal van die ANC in die provinsie, het by navraag bevestig Shaik het geld aan die ANC gegee vir byvoorbeeld "begrafnisse of wanneer die ANC vir ander gebeure soos konferensies geld nodig het".

Volgens Rapport se inligting het dr. Zweli Mkhize, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, by meer as een geleentheid kontant by Shaik se kantore gaan afhaal as provinsiale tesourier.

Mkhize het nie op navrae gereageer nie.

Shaik het ook regstreekse toegang tot mnr. Mendi Msimang, die ANC se nasionale tesourier.

Hy het ook kontak met polisiehoof Jackie Selebi deur sy persoonlike assistent, mnr. Tinus Botha.

Die klopjagte volg op berigte in April vanjaar in Rapport oor 'n "skadebeheervergadering" wat Shaik in November verlede jaar op Mauritius bygewoon het saam met senior bestuurders van Thomson-CSF.

Op dié vergadering het Shaik glo sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van regter Willem Heath se ondersoekeenheid by die wapenondersoek. Hy was glo bekommerd dat 'n sekere ANC-lid "sy mond sal oopmaak" en dat hulle almal dan in die moeilikheid sal wees.

Toe die Skerpioene Dinsdag op Shaik en sy Nkobi Holdings toegeslaan het, is daar terselfdertyd in Frankryk en Mauritius toegeslaan op die kantore van Thales International, die houermaatskappy van Thomson-CSF, en die huise van twee senior direkteurs van Thomson-CSF se Suider-Afrikaanse tak, mnre. Jean-Paul Perrier en Alain Thetard, wat volgens Rapport se inligting op die vergadering op Mauritius was.

Thomson-CSF en Shaik het 'n belang in African Defence Systems (ADS), wat 'n sentrale rol in die wapentransaksie gespeel het.

Shaik is ook die broer van mnr. Chippy Shaik, hoofwapenaanskaffer van die weermag en sentrale figuur in die wapentransaksie.

Shaik het 'n belang in Cell C en het verlede jaar ook 'n kontrak van R37 miljoen gekry vir die sensus wat nou gedoen word.

Daarby het hy ook 'n belang in N3 Toll Concessions, die maatskappy wat tolpaaie ontwikkel, asook in die dobbelbedryf en die bou van die Koning Shaka-lughawe by Durban.

Shaik het ook bande met mnr. Michael Woerfel, besturende direkteur van Eads wat die afgelope week in die Pretoriase landdroshof verskyn het op aanklagte van bedrog en vervalsing. Hy word saam met mnr. Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, aangekla in verband met reuse-afslag wat Yengeni na bewering gekry het op 'n luukse-motor.

Met erkenning aan Andries Cornellisen en Rapport.