Publication: Rapport Issued: Date: 2001-09-30 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Wapenman voor Stok omdat Hy op Dokumente Sit

 

Publication  Rapport
Date 2001-09-30
Reporter Andries Cornelissen
Web Link www.news24.co.za

'n Maatskappy wat betrokke was by die omstrede wapentransaksie weier om dokumente ``wat baie interessante leesstof kan wees'' en nodig is vir die ondersoek na die wapenskandaal aan die Skerpioene te oorhandig.

Mnr. Ian "Pierce", direkteur en aandeelhouer van Futuristic Business Solutions (FBS), is Vrydag in hegtenis geneem omdat hy 'n dagvaarding verontagsaam het om bepaalde dokumente te voorsien.

Die eerste dagvaarding om die dokumente te oorhandig, is op 10 Junie uitgereik en daarná nog een op 10 Julie.

"Pierce" voer glo aan dat hy nie van die dagvaarding weet nie, want dis op sy sekretaresse beteken.

Volgens mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale direktoraat van openbare vervolging, is 'n klag daarna by die polisie ingedien.

FBS was in die nuus nadat 'n afskrif van 'n konsepooreenkoms tussen dié maatskappy en Thyssen, 'n lid van die Duitse Frigat Consortium wat eindelik die kontrak gekry het om vier korvette aan Suid-Afrika te verkoop, in die media se hande beland het.

Volgens dié ooreenkoms sou Thyssen aan FBS 'n bedrag van R1,2 miljoen betaal as die Duitse maatskappy 'n deel van die korvettekontrak bekom.

FBS moes volgens die ooreenkoms sleutelfigure in die parlement, die departement van verdediging, Krygkor, die gesamentlike parlementêre komitee oor verdediging, die departement van handel en nywerheid en die verdedigingsbedryf se guns probeer wen.

Soortgelyke kontrakte is glo met ander voornemende wapenverskaffers gesluit.

Afgetrede lt.genl. Lambert Moloi, MK-staatmaker en vertroueling van mnr. Joe Modise, minister van verdediging tydens die aankoopproses, en mnr. Tshepo Molai, Moloi se skoonseun, is aandeelhouers in FBS.

Sedert vroeg verlede jaar, nadat die besluite oor die wapentransaksie geneem is, is hulle ook direkteure van African Defence Systems (ADS) wat as koördineerder opgetree het vir onder meer die fregatkontrak. FBS besit 20% van ADS.

FBS se naam is ook genoem tydens die openbare ondersoek van die openbare beskermer.

Dr. Richard Young, wat beweer hy het 'n kontrak verloor weens ADS, het onder skoot gekom oor geheime dokumente wat hy van twee afsonderlike bronne bekom het en wat geklassifiseerde inligting bevat.

Mnr. Shane Dwyer, regsverteenwoordiger van die German Frigat Consortium, het gevra of Young geweet het dat van die dokumente gesteel is tydens 'n inbraak by FBS.

"Pierce" is met 'n waarskuwing vrygelaat en verskyn môre in die Pretoriase landdroshof. 

With acknowledgment to Andries Cornelissen and Rapport.