Wapen-Verdagtes kan Hiéroor Hof toe |
Publication | Beeld |
Date | 2001-10-21 |
Reporter | Erica Gibson |
Web Link | http://www.news24.co.za |
Verdagtes
in die ondersoek na beweerde onreëlmatighede in die multimiljoenrand -
wapentransaksies kan die regering of sekere ministers in siviele gedinge hof toe
sleep indien die ondersoekverslae inligting bevat wat volgens hulle strydig is
met die reg.
Daar is sprake dat dreigende interdikte teen die bekendmaking van die verslae
bygedra het tot die vertraging in die oorhandiging van die ondersoekverslag. Dit
sal waarskynlik eers oor 'n week aan die parlement oorhandig word.
Van die verdagtes is ondervra ingevolge Artikel 28 van die Nasionale
Vervolgingswet wat bepaal dat inligting wat die ondersoekers bekom het, nié
openbaar gemaak mag word nie.
Adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van nasionale vervolging, kan 'n ondersoek
magtig.
Indien dié verslag verder versprei word - soos aan die parlement én aan die
publiek - moet Ngcuka wéér om toestemming genader word.
Een van die verdagtes het gesê hy en sy regsverteenwoordiger het die
ondersoekspanne gewaarsku dat hulle ingevolge dié wet sekere vertroulike
inligting oorgedra het.
"Dit was ons voorwaarde dat dit nié openbaar gemaak word nie. Dit gaan
onder meer oor die vertroulikheid van sekere van die dokumente met
geklassifiseerde inligting. Diéé klassifikasie mag die verbreking van sekere
kontrakbepalings met die oorsese kontrakteurs beteken.
"Met die bekendmaking van die inligting sal ondersoekers sélf die
wet oortree. Nie eens die voortydige bekendmaking van die verslae (die afgelope
week) aan die drie ondersoekagentskappe se ministers kan die ondersoekers
beskerm nie.
"In baie van die bewerings kan die ondersoekers glo nié 'n
bevinding of aanbeveling doen sonder die vertroulike inligting nie. Ek weet nie
of dít die rede is hoekom dele van die verslag die afgelope week oorgeskryf is
nie, maar ek kan raai."
In die geval van getuienis voor die openbare verhore oor die wapentransaksies
kan dié inligting in die verslae gebruik word, maar niks van dié inligting mag
in enige strafregtelike saak as getuienis gebruik word nie.
Van die verdagtes is ondervra ingevolge die Ouditeursgeneraalswet of dié van
die Openbare Beskermer, maar volgens die verdagtes was dit nie altyd duidelik
watter wet gegeld het nie.
Sekere ondersoekers het tydens die ondersoek van departemente verwissel, wat dit
verder verwarrend gemaak het.
With acknowledgement to Erika Gibson, Beeld and News24.