Yengeni se Advertensie Wek Vrae |
Publication | Die Burger |
Date | 2001-07-15 |
Reporter | Cobus Grobler |
Web Link | www.news24.co.za |
Kaapstad
- Met die ongewone stap om sowat R250 000 se koerantadvertensies te laat
plaas om sy kant in die kwessie oor sy omstrede Mercedes-Benz en die ontvouende
wapentransaksie te stel, het mnr. Tony Yengeni meer vrae laat ontstaan as wat hy
beantwoord het, het opposisiepartye gister gesê.
Yengeni, ANC-hoofsweep in die Nasionale
Vergadering, is uit verskeie oorde die kop gewas omdat hy nóú eers reageer ná
twee jaar se bewerings en omdat hy nie eerder die geleentheid gebruik het om in
'n parlementêre ondersoek oop kaarte te speel nie.
Die advertensies word afgesluit met 'n kwalik
bedekte dreigement dat as bewerings teen diegene wie se name saam met gerekende
internasionale maatskappye en die regering in die wapenondersoek genoem word,
nie bewys kan word nie, dié mense wat vir die "grootskaalse verwarring en
'n wilde spooksoektog" verantwoordelik is, "die volle
verantwoordelikheid vir hul dade moet aanvaar".
Verskeie politieke partye het gister met talle
vrae op dié advertensieveldtog gereageer. Die groot vraag is blykbaar wie die
derduisende rande vir die plasing daarvan betaal het.
Mnr. Cassie Aucamp, AEB-leier, het in 'n
verklaring gesê as Yengeni self die koste dra, was dié viertrekvoertuig
uiteindelik geen winskoop nie. Luidens Yengeni se advertensie het hy iets meer
as R230 000 vir die voertuig betaal, waarvan die kleinhandelprys na
bewering sowat 314 000 is. As die advertensiegeld bygereken word, kan die
finale koste (sonder rente) byna 'n halfmiljoen rand wees.
Aucamp het gesê as Yengeni self opgedok het,
"is die betrokke motor die duurste kopie van sy lewe. As dit die regering
sou wees, is daar 'n nuwe korrupsieskandaal op hande. As dit die ANC self is,
moet die kiesers oordeel of hul belange só met goeie rentmeesterskap behartig
is."
Mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep, wat klagte oor
Yengeni by die Parlement ingedien het, het in sy verklaring gesê Yengeni moet
Suid-Afrika vertel wie vir die advertensie betaal het en dié voordeel aan die
registrateur van ledebelang in die Parlement verklaar.
"Hy moet verduidelik waarom hy nie voor die
Parlement se komitee oor etiek en ledebelange verskyn het nie.
"Hy minag na my mening steeds die Parlement
en dié advertensie vergroot die probleem net," het Gibson gesê.
Yengeni het na die mediaberigte oor die skandaal
verwys as "ongeëwenaar in die geskiedenis van heksejagtery" wat sy
familie, sy party, die land en homself erg benadeel het.
"Die tyd het nou aangebreek dat ek reageer . . .
Die onlangse onderhoud agter geslote deure met die personeel van die nasionale
direkteur van openbare vervolging het meegehelp dat kwaadstokers kon gis en het
ruimte geskep vir allerlei ongegronde beskuldigings en skimpe," lui die
advertensie.
Yengeni verduidelik onder meer hy het nie 'n afslag van 47% op die aankoopprys van die viertrekvoertuig ontvang nie, maar wel sowat 26% as 'n bemarkingspoging vir die vervaardigers. Die voertuig was boonop beskadig.
With
acknowledgement to Cobus Grobler and Die Burger.