Publication: Beeld Issued: Date: 2001-10-10 Reporter: Sapa Editor:

Woerfel voor oor Korrupsie

 

Publication  Beeld
Date 2001-10-10
Reporter Sapa 
Web Link www.news24.co.za

 

 

Pretoria - Mnr. Michael Woerfel, geskorste besturende direkteur van Eads in Suid-Afrika, is Vrydagoggend op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy op aanklagte van korrupsie en vervalsing in Pretoria die hof verskyn het.

Eads het 'n belang in Suid-Afrika se wapentransaksie van minstens R66 miljard. Woerfel was na bewering betrokke by 'n transaksie ingevolge waarvan mnr. Tony Yengeni, gewese ANC-hoofsweep in die Nasionale Vergadering, 'n luukse 4X4-voertuig teen groot afslag bekom het om die wapentransaksie te beinvloed.

Woerfel het Vrydagoggend vlugtig in die kommersiële hof hier verskyn. Sy borgtog-voorwaardes bepaal onder meer dat hy die ondersoekspan moet verwittig indien hy die land wil verlaat. Die saak is tot 25 Januarie aanstaande jaar uitgestel wanneer hy en Yengeni saam in die hof sal verskyn.

Yengeni het verlede week in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog, vervalsing en meineed. Hy is ook op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die staat voer aan dat Yengeni die voertuig ontvang het om sy mag te gebruik om Eads se voorgangers Daimler-Benz Aerospace AG of DaimlerChrysler Aerospace AG, in die wapentransaksie te bevoordeel.  

With acknowledgment to Sapa, Beeld and News24.