Publication: Beeld Issued: Date: 2001-07-15 Reporter: Cobus Grobler Editor:

Kritiek teen Yengeni-Advertensies


Publication  Beeld
Date 2001-07-15
Reporter Cobus Grobler
Web Link www.news24.co.za

 

Kaapstad. - Mnr. Tony Yengeni, die ANC se hoofsweep in die parlement, is skerp gekritiseer oor die advertensies wat hy Sondag in koerante geplaas het om te verduidelik hoe hy aan sy omstrede Mercedez-Benz-motor gekom het.

Hy het glo sowat R250 000 vir die advertensies betaal.

Yengeni is die kop gewas omdat hy nóú eers reageer ná twee jaar se bewerings en omdat hy nie eerder van die geleentheid gebruik gemaak het om aan 'n ondersoekspan van die parlement self te vertel wat aangaan nie.

Die advertensies wat volblaaie beslaan, is in sy naam gepubliseer, maar met die naam van 'n prokureursfirma, Chuene Kwinana Motsatse van Butterworth, daarby gedruk.

Die advertensies word afgesluit met 'n kwalik bedekte dreigement dat indien niks verkeerd bewys kan word teen die mense wie se name saam met dié van "gerekende internasionale maatskappye" en die regering deur die modder gesleep is nie, dié mense "die volle verantwoordelikheid vir hul dade moet aanvaar" wat vir die "grootskaalse verwarring en 'n wilde spooksoektog" verantwoordelik is.

Verskeie politieke partye het gister met talle vrae op dié advertensie-veldtog gereageer. Die groot vraag by almal is wie daarvoor betaal het.

Mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep wat klagte oor Yengeni by die parlement ingedien het, het in 'n verklaring gesê Yengeni moet Suid-Afrika vertel wie vir die advertensie betaal het. "Ek neem aan hy gaan dié voordeel aan die registrateur van ledebelange in die parlement verklaar. Hy het reeds ander veronderstelde blootleggings verswyg.

"Ek is onbëindruk deur die advertensie wat meer vrae laat ontstaan as wat dit antwoorde gee. Boonop het hy weer in gebreke gebly om te verduidelik waarom hy nie die voordeel van die motor aan die parlement verklaar het nie. Hy verkies egter om met Suid-Afrika te kommunikeer deur 'n betaalde advertensie in Sondagkoerante."

Mnr. Cassie Aucamp, AEB-leier, het in 'n verklaring gesê as Yengeni self die koste dra, was die motor eindelik geen winskopie nie.

Luidens Yengeni se advertensie het hy meer as R230 000 daarvoor opgedok. Die kleinhandelprys was sowat R314 000. As die advertensiegeld bygereken word, kan die finale koste meer as 'n halfmiljoen rand wees.

Yengeni het na die mediaberigte verwys as "ongeëwenaard in die geskiedenis van heksejag" wat nadelig is vir sy familie, sy party (ANC), die land en homself.

"Die tyd het nou aangebreek dat ek reageer. Die onlangse onderhoud agter geslote deure met die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging het gehelp dat kwaadstokers kon gis en het ruimte geskep vir allerlei ongegronde beskuldigings en skimpe." 

With acknowledgement to Cobus Grobler and News24.