Publication: Beeld Issued: Date: 2001-10-09 Reporter: Christi van der Westhuizen Editor:

Yengeni is Uitgeskop

 

Publication  Beeld
Date 2001-10-09
Reporter Christi van der Westhuizen
Web Link www.news24.co.za

 

 

Kaapstad. - Mnr. Tony Yengeni het toe nie uit vrye wil as ANC-hoofsweep in die parlement bedank soos hy voorgegee het nie, maar is op aanbeveling van die ANC se politieke komitee gekors.

Dít is Dinsdag bevestig ná gerugte daaroor.

Yengeni is verlede week op borgtog vrygelaat nadat hy op aanklagte van korrupsie en meineed in die Kaapse landdroshof verskyn het. Dit hou verband met die koop van luukse voertuie by 'n maatskappy wat 'n kontrak gekry het in die omstrede wapenpakket van R66 miljard.

Die politieke komitee, 'n interne komitee van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in die parlement, het aan die nasionale werkkomitee (NWK) van die ANC aanbeveel dat Yengeni as hoofsweep geskors word, het me. Nomfanelo Kota, nasionale ANC-woordvoerder, Dinsdag gesê.

Die NWK het Maandagaand op 'n vergadering in Luthuli-huis wat tot laat geduur het, besluit om Yengeni te laat aanbly as parlementslid hangende die uitspraak van die hof. Die moontlikheid is verlede week geopper dat hy ook as LP geskors sal word.

Mnr. Geoff Doidge, adjunkhoofsweep, is aangewys as waarnemende hoofsweep, het Kota gesê.

Die moontlikheid van 'n opvolger vir Yengeni sal eers tersaaklik raak indien hy skuldig bevind word. 'n Naam wat genoem word, is dié van mev. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ondervoorsitter van die ANC se politieke komitee en voorsitter van die parlement se komitee vir intelligensie.

Haar man is mnr. Charles Nqakula, adjunkminister van binnelandse sake.  

With acknowledgment to Christi van der Westhuizen, Beeld and News24.