Chippy "Kon Beter Doen" |
Publication | Rapport |
Date | 2002-03-30 |
Reporter | Andries Cornelissen |
Web Link | www.news24.co.za/Rapport/ |
As hy nou terugkyk, kon hy dit (die wapentransaksie) beter gedoen het, maar dit is nou afgehandel.
Só sê mnr. Chippy Shaik, omstrede hoofaankoper van die departement van verdediging, nadat hy verlede week bedank het.
Shaik word beskou as die sleutelfiguur in besluite oor wie kontrakte gekry het in die wapentransaksie.
Dit het byvoorbeeld die afgelope week aan die lig gekom dat mnr. Moeletsi Mbeki, broer van pres. Thabo Mbeki, geld gaan maak uit 'n besluit wat deur Shaik bëinvloed is tydens die wapentransaksie.
Me. Raenette Taljaard, DA-woordvoerder oor die transaksie, sê die vrae oor Shaik se rol in besluite moet nie eindig net omdat hy bedank het nie.
"Dit is noemenswaardig dat hy besluit het om te bedank eers nadat hy sy pos behou het tydens die hele wapenondersoek. Dit het verseker dat hy in 'n magtige posisie gebly het om die ondersoek te bë?nvloed deur moontlik inligting en dokumente te sif wat aan die gesamentlike ondersoekspan gestuur is."
Taljaard sê die feit dat Shaik weggekom het met wat hy gedoen het, het die etiese standaard vir optrede deur staatsamptenare verlaag en ander sal ook dink hulle kan daarmee wegkom.
Die sleutelvraag is of Shaik in die verdedigingsbedryf gaan werk, want dit laat verdere etiese vrae ontstaan, sê Taljaard.
Shaik sê hy gaan nou sy doktorsgraad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Natal voltooi.
Hy is 'n voormalige Fullbright Scholar.
"Al die voorstelle in die ouditeur-generaal se verslag oor die wapentransaksie word nou in werking gestel." Hy wil die departement ook verlaat voordat 'n nuwe aankoopproses begin.
Shaik sê hy het nie onmiddellike werkplanne nie. "Wat ek wel weet, is dat ek nie nou in die verdedigingsbedryf moet gaan werk nie."
Hy gaan eers sy studie voltooi en dan sal hy enige goeie aanbod oorweeg.
Shaik is skerp gekritiseer in die verslag oor die multimiljardrand-wapenondersoek omdat hy hom nie behoorlik onttrek het aan besluite waarby sy sakeman-broer, mnr. Schabir Shaik, 'n belang gehad het nie.
"As ek nou terugkyk, kon ek dit beter gedoen het." Schabir Shaik se Nkobi Holdings het aandele in maatskappye wat verskeie kontrakte in die wapentransaksie losgeslaan het. Schabir word ook daarvan aangekla dat hy onwettig in besit was van onder meer kabinetsnotules oor die wapentransaksie.
Die vraag is steeds by wie hy die dokumente gekry het.
Chippy Shaik is in November verlede jaar geskors omdat hy 'n voorlopige weergawe van die verslag aan sy prokureur gegee het.
Hy is aan wangedrag skuldig bevind en het 'n finale skriftelike waarskuwing gekry.
Met erkenning aan Andries Cornelissen en Rapport.