Wapens : R200 m -eis kan Volg |
Publication | Beeld |
Date | 2001-08-30 |
Reporter | Tyrone Seale |
Die uitslag van die ondersoek na beweerde ongerymdhede in die toekenning van wapenkontrakte van R43,8 miljard sal bepaal of dr. Richard Young, een van die subkontrakteurs, ‘n eis van tussen R100 miljoen en R200 miljoen teen die staat instel.
Young se maatskappy, CCII, het ‘n tender ingedien om ‘n inligtingsbestuurstel vir die vloot se korvette te verskaf, maar Detexis, ‘n sustersmaatskappy van African Defence Systems (ADS), is as verskaffer aangewys.
Een van ADS se direkteurs is mnr. Schabir Shaikh wie se broer, Chippy, die hoofwapenaanskaffer van die weermag is.
Young het gister tydens kruisondervraging in die openbare verhoor na die transaksies gesê hy was vroeg vanjaar van plan om vergoeding te eis indien regter Willem Heath, destydse hoof van die spesiale ondersoekeenheid, van sy pos en van die ondersoek onthef word.
Mnr. Martin Kriegler, regsverteenwoordiger van ADS, een van die groot wapenkontrakteurs, wou by Young weet hoekom hy agt maande later nog geen regstappe gedoen het om sy eis van tussen R100 miljoen en R200 miljoen in stel nie.
Young het verduidelik hy het besluit om eerder sy samewerking aan die ondersoekspan te gee.
Kriegler het dit aan Young gestel dat hy (Young) die boustene van die inligtingsstelsel geskep het terwyl hy nog ‘n werknemer was van UEC, ‘n Krygkor-filiaal wat tegnologie aan die weermag verskaf het.
Young het toegegee dat hy tot sy vertrek van UEC in December 1991 gewerk het aan die "embrio" van die stelsel wat CCII later verder gevoer het.
Hy het gesê hy het sy eie maatskappy in Februarie 1992 op die been gebring, maar Kriegler het bewyse gelewer dat CCII reeds twee jaar tevore as ‘n maatskappy geregistreer is.
Young het gesê hy het nie in die eerste twee jaar sake gedoen onder die CCII vaandel nie, maar dat hy as die hoof van CCII aan die einde van 1991 - nadat hy sy bedanking by UEC ingehandig het - aan ‘n simposium in Londen deelgeneem het.
Hy het gesê hy het CCII se naam gebruik om Kruigkor te beskerm teen die internasionale sanksies wat destyds in plek was en wat dit onmoontlik sou maak vir Krygkor om aan doe simposium deel te neem.
Kriegler het beweer dat Young CCII aan die simposium bekend gestel het om sake vir sy eie maatskappy te kry dat Krygkor nie bewus was van sy "sanksiestrategie" nie.
Young het ook onder skoot gekom oor geheime dokumente wat hy van twee afsonderlike bronne bekom het en wat geklassifiseerde inligting bevat.
Hy het gesê hy het sekere dele bestudeer voordat hy afdrukke gemaak en die "digitale" dokumente vernietig het.
Mnr. Shane Dwyer, regsverteenwoordiger van die German Frigate Consortium, het gevra of Young geweet het dat van die dokumente gesteel is tydens ‘n inbraak by Futuristic Business Solutions wat ‘n aandeel van 20% in ADS het.
Young het gesê hy het nie geweet hoe die dokumente bekom is nie en hy was verbaas toe sy bronne dit aandied.
With acknowledgements to Tyrone Seale and Beeld.