Wapenman ‘het Media Gebruik ter Versterking van sy Saak' |
Publication | Beeld |
Date | 2001-08-29 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.bday.co.za |
‘n Wapenkontrakteur wat weens beweerde onreëlmatige bevoordeling nie ‘n subkontrak van die wapentransaksies van R43,8 miljard gekry het nie, is gister daarvan beskuldig dat hy "eensydige"argumente om sy saak te versterk in die media en elders versprei het.
Adv. Michael Kuper, namens die departement van verdediging, het gesê hy het selfs in sy voorlegging aan die openbare verhoor nie die volle waarheid vertel nie, omdat dit ‘n ander prentjie sou skets as wat hy voorgelê het.
Dr. Richard Young van CCII, wat meegeding het om ‘n bestuursinligtingstelsel van die vloot se korvette, het ontken dat hy die media gebruik het. Volgens hom het hy net joernaliste se vrae beantwoord..
Op ‘n stelling van Kuper dat sy weergawe gelei het tot baie wanopvattings oor onreëlmatighede in die korvettransaksie, en oor Detexis wat die kontrak gekry het, het Young gesê dit is "tot ‘n mate" waar.
Detexis is ‘n sustermaatskappy van African Defence Systems (ADS). Mnr. Schabir Shaikh, broer van mnr. Chippy Shaikh, hoofwapenaanskaffer van die weermag, is ‘n direkteur van ADS.
Volgens Kuper beslaan die kontrak waarby Young belang gehad het, slegs sowat 1% van die wapenpakkettransaksies.
"Daar was waarskynlik honderde mededingers om kontrakte, maar CCII is die enigste wat regstappe oorweeg het weens beweerde onregverdigheid."
Young het nie geantwoord toe Kuper hom vra waarom hy nie die saak twee jaar gelede al hof toe geneem het nie.
Volgens Kuper was Young "selektief" in sy getuienis waaring hy uit sekere dokumente dele aanhaal.
Een van die dokumente is die tegniese evaluering van die Detexis-stelsel, wat ‘n geklassifiseerde dokument is.
Op ‘n vraag van Kuper of hy die dokument het, het Young gesê hy het ‘n kopie tuis, maar dat dit geklassifiseerd is en nie aangehaal mag word nie.
Young het sonder magtiging die dokument "elektronies" ontvang, maar hy kon nie onthou van wie nie.
Young het vroeër oor mnr. Chippy Shaikh se beweerde konflik van belange gesê dit was " ‘n klug" dat Shaikh hom uit vergaderings verskoon het waar ADS ter sprake was.
Hy het vise-adm.. Robert Simpson-Anderson, voormalige vloothoof, ook beskuldig dat hy voor die verhore gelieg het toe hy gesê het hy het in die gevalle as voorsitter by Shaikh oorgeneem.
With acknowledgements to Erika Gibson and Beeld.