Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-11-16 Reporter: Peet Bothma Editor:

Openbare Beskermer Vervolg ná `Aanranding'

 

Publication  Die Burger
Date 2000-11-16
Reporter Peet Bothma

 

JOHANNESBURG. Die openbare vervolger in KwaZulu-Natal, adv. Mokotedi Mpshe, het besluit om die Openbare Beskermer, adv. Selby Baqwa, te vervolg.

Mnr. Barend Groen, senior staatsaanklaer belas met spesiale vervolging in Durban, het gistermiddag bevestig dat 'n dagvaarding teen Baqwa uitgereik is.

Luidens die dagvaarding, wat volgens hom by die polisie is, moet Baqwa op 15 Februarie aanstaande jaar in die Durbanse landdroshof verskyn op 'n aanklag van aanranding.

Die aanklag teen Baqwa spruit uit 'n voorval einde Oktober vanjaar, toe hy me. Dolly Mkhulisi na bewering in 'n hotelkamer in Durban aangerand het.

Sy het glo op 7 November die aanklag teen Baqwa by die Durban Sentraal polisiekantoor ingedien.

Geeneen van Baqwa se amptelike woordvoerders wou gister uitwei oor die omstandighede van die beweerde aanranding nie.

Baqwa het met die beweerde voorval die kongres van die Internasionale Organisasie van Ombudsmanne in dié stad bygewoon. Hy is op die kongres tot vise-president van die organisasie verkies.

Baqwa is Maandag ook aangewys as die koördineerder van die hoëvlak-ondersoek na die land se wapentransaksies van R30 miljard.

Me. Nicolette Teichman, Baqwa se woordvoerder, het gesê sy volstaan met 'n verklaring vroeër dat die voorval 'n ``moddergooiery'' is.

Sy het gesê gerugte dat Mkhulisi en Baqwa 'n verhouding het, is van alle waarheid ontbloot. Baqwa is getroud en het vier kinders.

Met erkenning aan Peet Bothma en Die Burger.