Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-11-16 Reporter: Eie Kantoor Editor:

Aanrandingsklag Teen Openbare Beskermer

 

Publication  Die Burger
Reporter Eie Kantoor
Date 2000-11-16

 

JOHANNESBURG. Die openbare vervolger in KwaZulu-Natal, adv. Mokotedi Mpshe, het besluit om die Openbare Beskermer, adv. Selby Baqwa, te vervolg.

Mnr. Barend Groen, senior staatsaanklaer belas met spesiale vervolgings in Durban, het gistermiddag bevestig dat 'n dagvaarding aan Baqwa uitgereik is.

Luidens dié dagvaarding, wat volgens hom in die hande van die polisie is, moet Baqwa op 15 Februarie aanstaande jaar in die Durbanse landdroshof verskyn op aanklag van aanranding.

Dit spruit uit 'n voorval einde verlede maand toe Baqwa na bewering me. Dolly Mkhulisi in 'n hotelkamer in Durban aangerand het.

Sy het glo op 7 November dié klag teen Baqwa by die Durban-Sentraal polisiekantoor ingedien.

Geeneen van Baqwa se amptelike woordvoerders wou gister uitwei oor die omstandighede rondom die beweerde aanranding nie. Baqwa het ten tyde van die beweerde voorval die kongres van die Internasionale Organisasie van Ombudsmanne in dié stad bygewoon. Hy is op dié kongres tot visepresident van die organisasie verkies.

Baqwa is Maandag ook aangewys as die koördineerder van die hoëvlakondersoek na die land se wapentransaksies van R30 miljard.

Me. Nicolette Teichman, Baqwa se woordvoerder, het gesê sy volstaan met haar vroeëre verklaring dat die voorval 'n ``moddergooiery'' is. Sy het gesê gerugte dat Mkhulisi en Baqwa 'n verhouding het, is van alle waarheid ontbloot. Baqwa is getroud en het vier kinders.

Adv. Maruma Moerane SC, Baqwa se regsverteenwoordiger, het gesê hy wag dat die kantoor van die vervolger met hom in verbinding tree. ``Ek voorsien nie dat ek enigsins enige verdere mediaverklarings oor die saak sal uitreik nie.''

Met erkenning aan Die Burger.