Publication: Rapport Issued: Date: 2002-12-01 Reporter: Eugene Gunning Editor:

Dié Reg Beteken Nie Jy Mag Alles Weet

 

Publication  Rapport
Date 2002-12-01
Reporter Eugene Gunning

 

Die reg om te weet, sou 'n mens dit in gewone taal kon noem, is in die grondwet se handves van regte ingeskryf. Dit beteken dat elkeen in Suid-Afrika die reg op toegang tot inligting het.

Dit geld eerstens inligting waaroor die staat beskik en dis ooreenkomstig die uitgesproke verbintenis van die eerste demokratiese regering tot deursigtigheid, openheid en verantwoordbaarheid.

Dis in skerp teenstelling met die vorige bedeling toe die staat jaloers oor sy geheime gewaak en die publiek geen manier gehad het om inligting te bekom wat die staat van hom wou weerhou nie.

Maar die grondwet maak ook voorsiening vir toegang tot inligting waaroor enige ander mens as die staat beskik en wat iemand nodig kan hê om enige van sy of haar ander grondwetlike regte te beskerm. Dis die sogenaamde horisontale bepaling en Suid-Afrika is die enigste land met wetgewing wat voorsiening maak vir die beskikbaarstelling van inligting deur die private sektor.

Tot vroeg vanjaar was dit alles mooi woorde in die grondwet. Maar die grondwet bepaal ook dat toegang tot inligting deur 'n spesiale wet gereël moet word. Dááraan is gehoor gegee toe die wet op die bevordering van toegang tot inligting in Februarie 2000 goedgekeur is. Dis egter eers in Maart vanjaar in werking gestel.

En nou, nie eens nege maande later nie, begin die voordele van die wet duidelik word deurdat mense nou met die wetboek in die hand kan aandring op inligting. Maar net so duidelik blyk ook die vele tekortkomings. Uit gesprekke met kenners en die ervaring van diegene wat reeds die wet benut het, blyk dit duidelik dat die wet geensins beteken dat alle inligting altyd vir almal beskikbaar is nie.

Dié wet het perke én beperkings. Dit blyk uit opskrif, hoofskrif en fyn skrif.

Dis 'n baie gekompliseerde wet, in besonder moeilike regstaal geskryf iets wat deur gebruikers, regspraktisyns en konsultante teen die wet gehou word, gesien dat deursigtigheid en openheid immers die grondwetlike ideaal is wat die wet wil uitvoer. Voorspooksels word gemaak oor vaaghede en dubbelsinnigheid wat misbruik kan word om die wet te omseil en wat uiteindelik die paadjie hof toe sal plavei. Maar nie almal het die geld vir duur hofsake om die wet te probeer opdwing nie.

Die wet bepaal dat enigiemand enige inligting kan aanvra. Of so 'n versoek toegestaan sal word, is egter 'n ander storie. Die wet skryf omslagtige prosedures voor vir die verkryging van inligting. Dit bevat heelwat definisies wat volgens regspraktisyns oop is vir verskillende vertolkings en wat benut kan word om inligting te weerhou. Weer eens, word gekla, sal die hof telkens uitsluitsel moet gee.

Tot Maart aanstaande jaar het instansies sestig dae tyd om op 'n versoek om inligting te reageer, daarna word dit tot dertig dae verminder. Selfs die dertigdae-tydperk word deur baie as hopeloos te lank beskou waar inligting dringend nodig is. Dit kan tot vertragingsaksies lei.

Maar dis veral die lang lyste uitsonderings oor wanneer inligting weerhou mag of moet word wat duidelik toon dat almal nie binnekort alles gaan weet wat hulle wil weet nie.

So is daar die lys gevalle waar inligtingsbeamptes (wat deur alle departemente en openbare instellings aangestel moet word) verplig is om inligting te weier. Dit sluit in die ``onredelike openbaarmaking'' van persoonlike inligting oor 'n derde party, insluitend 'n afgestorwe mens. (Die vraag is, sê kritici, wie gaan besluit wat ``onredelik '' in dié geval behels?)

Dit sluit ook in sekere inligting in die besit van die belastinggaarder; inligting wat ingevolge die strafproseswet nie bekend gemaak mag word nie; geprivilegieerde inligting wat deel uitmaak van 'n regsproses en inligting oor navorsing wat namens 'n derde party gedoen word.

Om sake nog ingewikkelder te maak, is daar weer 'n paar uitsonderings op hierdie lys.

Een daarvan is die ``substansiële oortreding'' van 'n wet. En niemand dui aan wat as substansieel beskou sal word nie.

'n Tweede, nóg langer, lys maak voorsiening vir gronde waarop 'n inligtingsbeampte volgens sy diskresie kan weier.

So byvoorbeeld kan hy aangevraagde inligting weier as hy meen dit sal die veiligheid van 'n gebou in gevaar stel; dit sal 'n ondersoek na wetsoortredings verhinder; dit sal die veiligheid van die land bedreig; of as die inligting handelsgeheime van die staat bevat of 'n rekenaarprogram waarop die staat kopiereg het.

Kabinetsnotules bly geheim, en so ook inligting oor 'n buitengewone tribunaal ``wat gevestig is ingevolge 'n landswet'' en sekere inligting oor 'n individuele lid van die parlement of 'n provinsiale wetgewer.

En, o ja, inligting wat aangevra word net om ergernis te veroorsaak, kan ook geweier word.

Hoe oor die graad van ergernis besluit gaan word, is bra onduidelik.

Voordat die wet opgestel is, was daar baie bedenkinge oor moontlike botsings met 'n ander grondwetlike reg: die reg op privaatheid. Waar hou 'n individu of 'n maatskappy se reg op privaatheid op, waar begin 'n ander se reg om te weet?

Sover vasgestel kan word, maak die wet nie voorsiening vir die verkryging van inligting van individue nie, maar wel van private instellings, en laasgenoemde kan natuurlik insluit dié maatskappye se inligting oor individue.

Maar die wet bepaal uitdruklik dat inligting oor derde partye nie verskaf kan word sonder dat die derde party in kennis gestel is nie. Die derde party kry 21 dae om te weier of in te stem dat inligting oor hom of haar verskaf word.

Die derde party kan ook 'n maatskappy of 'n ander openbare instelling wees.

Ook hier word haakplekke voorsien.

Die wet bepaal dat mense geregtig is op die registers van private instellings as dit nodig is vir die beskerming van ``enige regte''. Kritici kla dis veels te vaag en voorsien gedinge oor watter regte ter sprake is. Hofuitsprake die laaste tyd dui daarop dat ``enige regte'' veel wyer is as die menseregte in die grondwet.

Mnr. David Porogo, woordvoerder van justisie, sê maatskappye word verplig om inligting oor hul direkteurs, maatskappystrukture, filiale en balansstate bekend te maak.

Hulle hoef egter nie inligting bekend te maak oor byvoorbeeld produksamestellings en die chemiese formules van produkte nie. Hulle kan nie verplig word om hul bemarkingstrategieë bekend te maak of enige inligting wat hul mededingers 'n voorsprong kan gee nie.

Vir die individu wat bekommerd is dat die wet gebruik kan word om sy persoonlike inligting vryelik beskikbaar te stel aan wie ook al daarom vra, het Porogo 'n woord van gerusstelling: private maatskappye kan slegs persoonlike inligting oor iemand beskikbaar stel as die betrokkene toestemming gee.

Gesondheidsgeskiedenisse wat deur 'n kliniek, 'n mediese dokter, 'n werkgewer of 'n hospitaal gehou word, mag byvoorbeeld nie beskikbaar gestel word sonder die toestemming van die pasiënt nie.

With acknowledgement to Eugene Gunning and Rapport.