Anti-Zuma-Mense Wil Hom Glo Bykom |
Publication | Rapport, Nuus Afdeling |
Date | 2001-11-18 |
Reporter | Andries Cornelissen |
Senior ANC-politici wat adj. pres. Jacob Zuma wil diskrediteer, sit agter sy inhegtenisneming, sê mnr. Schabir Shaik, een van die hooffigure in die wapenskandaal.
Die Skerpioene het Schabir verlede week weens beweerde diefstal en die oortreding van die Wet op die Beskerming van Inligting in hegtenis geneem en aangekla.
Volgens Shaik is daar in die ANC 'n groep wat Zuma uit die kussings wil lig. Shaik is 'n vertroueling en finansiële raadgewer van Zuma.
Die Shaik-familie het ook sterk bande met die ANC op nasionale vlak en in KwaZulu-Natal weens hul rol in die bevrydingstryd.
Shaik het glo kabinetnotules in sy besit gehad waarin die "wapentransaksie" bespreek is, asook korrespondensie tussen die departemente van openbare ondernemings en verdediging oor dié transaksie.
Die Skerpioene het Shaik se kantore en huis verlede maand deurgesoek en op dokumente beslag gelê.
Hy bestuur 'n Absa-bankrekening namens Zuma en betaal die studiegeld van Zuma se kinders via sy maatskappy, Nkobi Holdings. Hy het ook regstreekse toegang tot mnr. Mendi Msimang, ANC-tesourier.
Sy sakebelange is gerig op reuse-staatskontrakte. Hy is onder meer voorsitter van Prodiba. Dié maatskappy het in 1998 die kontrak van R273 miljoen gekry om die land se nuwe kaartrybewys vir die departement van vervoer te vervaardig.
Shaik het ook 'n belang in Cell C. Hy is voorts direkteur van N3 Toll Concession, die maatskappy wat tolpaaie ontwikkel.
Sy maatskappy het ook 'n kontrak van R37 miljoen gekry vir Statistiek SA se onlangse sensus.
Hy is betrokke by planne om die Koning Sjaka-lughawe noord van Durban te bou. Een van sy maatskappye het die kontrak om vir die Pietermaritzburgse stadsraad 'n wildtuin teen R25 miljoen buite die stad te ontwikkel.
Hy is nou in 'n regstryd gewikkel met die nasionale dobbelraad en 'n ander invloedryke ANC-groep, wat mnr. Tokyo Sexwale en mev. Zanele Mbeki insluit, omdat die konsortium waarvan hy voorsitter is, nie die kontrak gekry het om landwyd dobbelmasjiene buite casino's te monitor nie.
Hy het ook verskeie toerismebelange.
Shaik se verbintenis met die "wapentransaksie" is deur sy direkteurskap van African Defence Systems (ADS), subkontrakteur vir die korvette se gevegsuites.
Shaik is ook 'n direkteur van Thomson-CSF (nou Thales), die Franse maatskappy met die meerderheidsaandeel in ADS.
Shaik se broer, Mo, is Suid-Afrika se ambassadeur in Algerië. Hy was voorheen 'n koördineerder in die intelligensieministerie en konsul in Hamburg, Duitsland.
Sy ander broer, Chippy, is die hoof van die departement van verdediging se wapenaankope.
In die verslag oor die wapenondersoek is bevind dat hy hom nie behoorlik onttrek het toe daar 'n moontlike botsing van belange met Schabir se sakebelange was nie.
Schabir Shaik is die derde persoon wie se vervolging verband hou met die "wapentransaksie".
Mnre. Tony Yengeni, voormalige ANC-hoofsweep, en Michael Woerfel, plaaslike hoof van die European Aeronautic Defence and Space Company (Eads) verskyn in Januarie volgende jaar in die hof op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met 'n luukse motor wat Yengeni glo teen reuse-afslag gekoop het.
Shaik is op borgtog van R1 000 vrygelaat en verskyn weer op 21 Januarie in die hof.
acorneli@rapport.co.za
Met erkenning aan Andries Cornelissen en Rapport.