Betrek Heath |
Publication | Die Burger |
Date | 2001-01-17 |
MET die stigting van die Heath- spesiale ondersoekeenheid in 1997 het die Regering destyds 'n duidelike boodskap uitgestuur dat hy ernstig is oor die stryd teen korrupsie.
Maar dr. Penuell Maduna, Minister van Justisie, se aanbeveling aan pres. Thabo Mbeki dat Heath nie moet deelneem aan die ondersoek na die omstrede wapenkontrak van R43 miljard nie, laat ernstige vrae ontstaan oor die Regering se volgehoue verbintenis tot dié stryd. Dit is jammer dat Maduna hom nie gesteur het aan die gevoel van die Nasionale Vergadering nie, wat duidelik was dat Heath deel van die ondersoekgroep moet uitmaak.
Daar is geen fout te vind met die instellings waaraan Maduna die ondersoek wil toevertrou nie, naamlik die Openbare Beskermer, die Ouditeur-generaal en die openbare vervolgingsgesag.
Veral adv. Selby Baqwa en mnr. Shauket Fakie het hul onafhanklikheid as waghonde reeds oor en oor bewys. Maar dit is nie die punt nie.
Heath en sy span het in die praktyk die grootste sukses van al dié instellings behaal. Die eenheid beskik oor spesiale ondersoekvaardighede en dwing die bewondering van baie lande af.
Die uitsluiting van so 'n goeie en toegewyde kampvegter teen korrupsie sal gewoon die verkeerde boodskap uitstuur.
Teen die agtergrond van die heftige vyandigheid tussen Heath en sommige politieke leiers wek Maduna se aanbeveling die indruk dat hy die regter en sy span om politieke redes uit die ondersoekgroep wil sluit.
Die kruks van die saak is dat daar nie eers 'n skyn van onbehoorlike optrede by die hoogste gesag moet wees nie.
Mbeki kan dié prysenswaardige doelwit bereik deur Maduna se aanbeveling te veto en Heath wel te betrek. Dit kan sy eie beeld en die belange van die land slegs bevoordeel.
Met erkenning aan Die Burger.