Publication: Rapport Issued: Date: 2002-12-01 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Brief Sinspeel op Zuma se Versoek om Omkoopgeld

 

Publication  Rapport
Date 2002-12-01
Reporter Andries Cornelissen

 

'n Brief waarin daarop gesinspeel word dat adj.pres. Jacob "Zuma" jaarliks R500 000 omkoopgeld wou hê in die omstrede wapentransaksie is ingesluit in hofdokumente waarin 'n rolspeler in dié transaksie probeer om sy ondervraging hieroor deur die Skerpioene te keer.

Die Skerpioene ondersoek bewerings dat "Zuma" probeer het om dié geld van 'n Franse wapenvervaardiger te kry. Die Skerpioene het die handgeskrewe brief in hofstukke ingesluit.

Dié ondersoek hou verband met inligting waaroor Rapport meer as 'n jaar gelede berig het nadat inligting oor die verbintenis tussen "Zuma" en mnr. Schabir Shaik, broer van mnr. Chippy Shaik, hoofaankoper in die wapentransaksie, aan Rapport gegee is.

Dit het verband gehou met Schabir Shaik se bestuur van "Zuma" se persoonlike geldsake.

Schabir Shaik word in Durban aangekla weens die onwettige besit van kabinetnotules. Sy verhoor het nog nie begin nie. Die Skerpioene wil hom nou ondervra oor "Zuma" en die beweerde omkoopgeld, maar Shaik het die Durbanse hooggeregshof gevra om dié ondervraging te keer.

Shaik is 'n Durbanse sakeman, wat betrokke is by verskeie staatskontrakte wat honderdmiljoene rande bedra.

Hy is onder meer 'n direkteur van Thomson-CSF (nou Thales) en African Defense Systems (ADS). Thomson-CSF was glo die maatskappy wat die omkoopgeld sou betaal.

ADS is 'n sentrale rolspeler in die koördinering van die wapentransaksie.

Thomson-CSF is 'n Franse maatskappy wat gekies is om toerusting vir die vloot se korvette te verskaf.

Rapport het onder meer berig oor 'n ``skadebeheervergadering'' in November 2000 op Mauritius wat senior bestuurders van Thomson-CSF en Shaik gehou het nadat koerantberigte gepubliseer is oor bewerings van 'n skandaal in verband met die wapentransaksie.

Op die vergadering het Shaik sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van regter Willem Heath se ondersoekeenheid by die wapenondersoek.

Hy was bekommerd dat 'n sekere ANC-lid ``sy mond sal oopmaak'' en dat hulle almal dan in die moeilikheid sal beland.

Shaik bestuur onder meer 'n Absa-bankrekening wat hy vir "Zuma" geopen het.

Shaik betaal ook die studiegeld van "Zuma" se kinders.

Toe Rapport hieroor by "Zuma" navraag gedoen het, het hy gesê omdat Shaik sy finansiële raadgewer is, word die studiegeld via Shaik se maatskappy betaal.

Op die vraag destyds of hy van Shaik se sakebelange weet, het "Zuma" gesê Shaik het dit ``in die verbygaan genoem'', maar hy ("Zuma") het nie belang gestel in die besonderhede nie.

Die meeste van Shaik se maatskappye is geregistreer en was aktief terwyl "Zuma" LUR was. Hy het in Desember 1997 adjunkpresident van die ANC geword en was tot Julie 1998 ANC-leier in KwaZulu-Natal.

In Junie 1999 is hy aangestel as adjunkpresident. Die finale besluit oor die wapentransaksie is in September 1999 deur die kabinet geneem.

Volgens "Zuma" het Shaik die wapentransaksie eers met hom bespreek nadat dit omstrede geraak het, maar inligting in die Skerpioene se besit weerspreek dit glo.

Shaik het hom nooit gevra om die proses te be¨nvloed nie. In die aankoopproses was hy 'n LUR, het "Zuma" destyds gesê.

"Zuma" se woordvoerder het die bewerings oor omkoopgeld ontken.

Shaik voer van die begin van die omstredenheid aan dat politieke vyande van "Zuma" hom wil gebruik om "Zuma" uit die kussings te lig.

Die jongste berigte kom net meer as twee weke voor die ANC se nasionale konferensie, waar leiersverkiesings gehou word.

Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging, wou nie kommentaar lewer oor wie ondersoek word nie omdat die Skerpioene se ondersoek na die wapentransaksie nog nie afgehandel is nie.

Hy sê dit sal binnekort klaar wees en daarna sal besluit word of enigiemand vervolg gaan word.

With acknowledgement to Andries Cornelissen and Rapport.