Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-11-17 Reporter: Eie Kantoor Editor:

Dagvaarding van Baqwa Uitgestel

 

Publication  Die Burger
Reporter Eie Kantoor
Date 2000-11-17

 

JOHANNESBURG. Die dagvaarding van adv. Selby Baqwa, Openbare Beskermer, weens die beweerde aanranding van 'n vrou is tydelik uitgestel.

Dit kom nadat die Durbanse kantoor van die openbare vervolger gister gesê het die dagvaarding is reeds by die polisie om bestel te word. Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale direkteur van vervolging, mnr. Bulelani Ngcuka, het gistermiddag die rede vir hierdie oënskynlike eierdans verduidelik. Hy het gesê dit is weens die sensitiwiteit van die saak.

Baqwa het na bewering einde Oktober vanjaar me. Dolly Mkhulisi in 'n hotelkamer in Durban aangerand.

Hy het in daardie stadium die internasionale kongres van ombudspersone in dié stad bygewoon en is verkies tot die internasionale vise-president van die organisasie. Mkhulisi het op 7 November die aanrandingsklag teen Baqwa by die polisie ingedien.

Gerugte dat Mkhulisi en Baqwa 'n verhouding gehad het, is vroeër deur Baqwa se kantoor in Pretoria ontken.

Ngwema het gister gesê die aankondiging oor die uitreiking van die dagvaarding eergister was voortydig, aangesien adv. Mokotedi Mpshe, openbare vervolger in KwaZulu-Natal, nog nie die Baqwa dossier onder oë gehad het nie.

Volgens Ngwema is 'n dagvaarding wel op lêer dit is standaard-prosedure maar omdat die saak so sensitief is, moet Mpshe eers 'n beslissing doen.

Kapt. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gistermiddag gesê die dossier is steeds by mnr. Barend Groen, senior staatsaanklaer belas met spesiale vervolging in Durban.

Met erkenning aan Die Burger.