Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-11-17 Reporter: Eie Kantoor Editor:

Dagvaarding teen Baqwa Teruggehou

 

Publication  Die Burger
Reporter Eie Kantoor
Date 2000-11-17

 

JOHANNESBURG. Die dagvaarding teen adv. Selby Baqwa, Openbare Beskermer, weens die beweerde aanranding van 'n vrou word vir eers teruggehou.

Dit kom nadat die Durbanse kantoor van die openbare vervolger gister gesê het die dagvaarding is reeds ``in die hande van die polisie'' om uitgevoer te word.

Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, het gistermiddag die rede vir dié oënskynlike eierdans verduidelik. Hy het gesê die rede vir dié vertraging is die sensitiwiteit van die saak.

Baqwa het na bewering einde verlede maand vir me. Dolly Mkhulisi in 'n hotelkamer in Durban aangerand. Hy het op daardie tydstip die internasionale kongres van ombudspersone in dié stad bygewoon en is tot internasionale visepresident van die organisasie verkies.

Mkhulisi het op 7 November die aanrandingsklag teen Baqwa by die polisie ingedien.

Gerugte dat Mkhulisi en Baqwa 'n verhouding gehad het, is vroeër deur Baqwa se kantoor in Pretoria ontken.

Ngwema het gister gesê die aankondiging oor die uitreiking van die dagvaarding was voortydig aangesien adv. Mokotedi Mpshe, openbare vervolger in KwaZulu-Natal, nog nie die Baqwa dossier gesien het nie.

Volgens Ngwema is daar wel 'n dagvaarding op leêr dit is standaardprosedure maar omdat die saak so delikaat is, moet Mpshe eers 'n beslissing vel.

Me. Nicolette Teichman, Baqwa se woordvoerder, het gister gesê hulle gaan nie verder kommentaar op die aangeleentheid lewer nie.

Met erkenning aan Die Burger.