Publication: Die Burger Issued: Date: 2000-11-18 Reporter: Nuus Oorsig Editor:

Die Openbare Vervolger in kwaZulu-Natal

 

Publication  Die Burger
Reporter Nuus Oorsig
Date 2000-11-18

 

Die openbare vervolger in KwaZulu-Natal, Mokotedi Mpshe, gaan moontlik die Openbare Beskermer, Selby Baqwa, weens aanranding vervolg.

Die dagvaardiging vir sy vervolging word voorlopig teruggehou, weens die ``sensitiwiteit van die saak''.

Blykbaar was die aanvanklike aankondiging oor die uitreiking van die dagvaarding voortydig, aangesien die openbare vervolger nog nie die Baqwa dossier onder oë gehad het nie.

Die klag teen Baqwa spruit uit 'n voorval einde Oktober toe hy na bewering Dolly Mkhulisi in 'n hotelkamer in Durban aangerand het. Sy het glo op 7 November dié aanklag teen Baqwa by die Durban Sentraal polisiekantoor ingedien.

Die omstandighede tydens die beweerde aanranding is steeds duister en nie een van Baqwa se amptelike woordvoerders wou kommentaar lewer nie.

Baqwa het ten tyde van die beweerde voorval die kongres van die Internasionale Ombudsmanorganisasie in dié stad bygewoon en is ook op die kongres tot visepresident verkies.

Baqwa is pas ook aangewys as die koördineerder van die hoëvlakondersoek na die Regering se wapentransaksies van R30 miljard.

Nicolette Teichman, Baqwa se woordvoerder, het gesê sy hou by haar vroeëre verklaring dat die voorval 'n ``moddergooiery'' is. Sy het gesê gerugte dat Mkhulisi en Baqwa 'n verhouding het, is van alle waarheid ontbloot.

Baqwa is getroud en het vier kinders.

Maruma Moerane, SC, Baqwa se regsverteenwoordiger, het gesê hy wag dat die kantoor van die vervolger met hom moet kommunikeer.

``Ek voorsien nie dat ek enigsins enige verdere mediaveklarings oor die aangeleentheid gaan doen nie,'' het Moerane gesê.

Met erkenning aan Die Burger.