Lastereis Toegestaan |
Publication | Beeld |
Date | 2002-09-27 |
Reporter | Erika Gibson |
Die ondersoek na beweerde onreëlmatighede met Suid-Afrika se multimiljardrand-wapentransaksies het pas in die Pretoriase hooggeregshof 'n nadraai gehad.
Dr. Richard Young van CCII, 'n verskaffer van militêre rekenaarstelsels in Kaapstad, het met 'n lastereis teen skoutadm. Jonny Kamerman (junior graad), projekoffisier van die vloot se korvetprogram, geslaag nadat Kamerman Young se naam beswadder het.
Kamerman moet nou in sy persoonlike hoedanigheid R250 000 opdok. Kamerman het verlede jaar in September tydens die openbare verhore oor die wapenondersoek onder meer aan Beeld gesê ondersoek sal ingestel word na Young se geheime klassifikasie as kontrakteur van die weermag.
Volgens Kamerman het Young geheime dokumente aan die media gegee, wat veroorsaak het dat staatsveiligheid in die gedrang gebring is.
Hy het gedreig dat Young as kontrakteur geskrap kan word as daar bevind sou word dat hy vertrouensbreuk met die staat gepleeg het.
Regter Willie Hartzenberg het die afgelope week vonnis vir betaling by verstek toegestaan nadat Kamerman nié die eis teengestaan het nie. Kamerman moet die eis, rente van 15,5% en Young se regskoste betaal.
Luidens Young se eis het Kamerman die uitlatings gemaak met die wete én met die bedoeling dat dit in die media herhaal sou word.
Hy het aangevoer dat Kamerman bedoel het om sy reputasie te skaad. Young het aanvanklik R500 000 geëis, maar die helfte van die bedrag is toegestaan.
Young het tydens die openbare wapenverhore getuig dat CCII in die toekenning van die wapenkontrakte meegeding het om die verskaffing van 'n bestuursinligtingstelsel ter waarde van meer as R200 miljoen vir die korvette.
African Defence Systems se sustermaatskappy Detexis het uiteindelik die kontrak bekom.
Young het vroeër beweer dat mnr. Chippy Shaikh, die weermag se voormalige hoofwapenaanskaffer, die toekenning van dié kontrak beinvloed het.
Young se maatskappy het ná die toekenning van die kontrakte subkontrakteurswerk van meer as R23 miljoen uit die transaksies verkry.
With acknowledgements to Erika Gibson and Beeld.