Maatskappy Vra Toegang tot Inligting |
Publication | Beeld |
Date | 2002-11-07 |
Reporter | Nicolize Mulder |
Web Link | www.news24.co.za |
Die stof oor die ondersoek na die multimiljardrand-wapenpakket het nog nie gaan lê nie.
Dr. Richard Young se wapenmaatskappy, CCII Systems, het Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof begin met 'n aansoek teen mnr. Shauket Fakie, ouditeur-generaal (OG), adv. Selby Baqwa, voormalige openbare beskermer (OB), adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, en mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging.
Fakie, Baqwa en Ngcuka se departemente was die ondersoekers wat beweerde ongerymdhede in die aankoop van wapenpakkette vir die weermag moes ondersoek.
Young se aansoek is ingedien ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting van 2000.
Dit is een van die eerste geleenthede waar dié wetgewing in die hof deurtrap word.
Luidens hofstukke wil Young voorlopige verslae wat die uiteindelike wapenverslag in November verlede jaar vooruitgeloop het, in die hande kry. Young se maatskappy moes 'n multimiljoenrand-kontrak vir die verskaffing van 'n inligtingbestuurstelsel vir die vloot se korvette aan African Defence Systems (ADS) afstaan.
Hy wil voorts 'n verkorte rekord van inligting wat deur die ondersoek opgelewer is, bekom.
Aanvanklik wou hy dokumente van sowat 225 000 bladsye hê, maar het sy versoek later beperk.
Dit is steeds geweier, onder meer omdat sy versoek se omvang te groot is en dit volgens die OG hulpbronne sou uitput om daaraan te voldoen. Young voer aan die OG het dít nie bewys nie.
Adv. Sam Maritz, namens die OG, het Donderdag aangevoer Young was te haastig met die hofaansoek en dat die OG aangebied het om Young se laaste versoek vir die verkorte rekord te oorweeg.
Maritz het gewys op die derduisende bladsye waartoe Young toegang wil hê en dat dit 'n "onmoontlike taak" sal wees om hierdeur te sif. Voorts is daar aspekte soos die vertroulikheid van wapenkontrakte wat gerespekteer moet word.
"Hier is geheime wat in ag geneem moet word," het hy gesê.
Adv. Owen Rogers, SC, het namens Young aangevoer die OG belemmer doelbewus Young en CCII se grondwetlike reg op inligting.
Young het ontken dat die aansoek 'n strategie is om inligting te bekom om in 'n siviele geding teen Lekota te gebruik.
Volgens hom is die versoek om inligting ingedien lank voordat die hofsaak teen Lekota begin is.
Hy voer aan hy wil die voorlopige verslae hê om te bepaal of daar enige waarheid in gerugte steek dat daar politieke inmenging was in die opstel van die finale verslag.
With acknowledgements to Nicolize Mulder and Beeld.