Dit Sal Nie Weggaan Nie, Mnr. Mbeki : Die Reuk van Toesmeer Hang in die Lug |
Publication | Rapport, Perspektief Rubriek: Politieke Rapport I |
Date | 2001-11-25 |
Reporter | Tim du Plessis |
Dit was die afgelope week ietwat pateties om te aanskou hoe hard die regering probeer het om die wapenskandaal ``agter die rug te kry''.
Eers was daar die lompe poging om die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) te verhinder om indringend te kyk na die volle verslag van die Ngcuka/ Fakie/Baqwa-ondersoek na die transaksies.
Daarna was daar aankondigings met groot uitroeptekens oor beleggings wat realiseer ingevolge die teenhandel-ooreenkomste in die "wapentransaksie".
Een wapenvervaardiger se filiaal gaan 'n kondoomfabriek in die Oos-Kaap koop en 'n ander een gaan 'n plantasie in Mpumalanga begin.
Niks hiervan het die gewenste effek gehad nie.
Al wat die Skoor-offensief bereik het, was om kommer te laat toeneem oor die regering se siniese, doelgerigte pogings om dié sleutelinstelling te manipuleer en beheer.
Danksy sy mega-meerderheid en durf 'n mens dit sê die Speaker se lidmaatskap van die regerende party se nasionale werkkomitee, behaal die ANC die een hol oorwinning na die ander in Skoor.
Maar dis veldslae wat geen oorlog gaan wen nie omdat die ANC sy eie geloofwaardigheid 'n messteek gee elke keer as hy die meerderheidswil aan Skoor opdwing.
Wanneer mense hier en in die buiteland wilde bewerings maak oor korrupsie wat kwansuis toegeneem het sedert die bewindsoorname in 1994, het die regering tot dusver altyd 'n goeie teenargument gehad.
Naamlik dat korrupsie inderdaad bestaan, maar dat die regering self verskeie inisiatiewe geloods en liggame geskep het om korrupsie te bestry.
Nugter alleen weet dus waarom pres Thabo Mbeki en sy binnekring toelaat dat Skoor se geloofwaardigheid so gesloop word.
Dis immers een van die waghonde wat hulle moet koester. Die koorsagtige pogings om die wapenskandaal op te doek en van die tafel te kry, het, soos altyd in sulke gevalle gebeur, die effek dat dit agterdog eerder laat toeneem.
Hoewel die amptelike verslag die regering merendeels vrygespreek het, hang die reuk van 'n toesmeerdery ná die afgelope week se geskarrel net sterker in die lug.
En dit is sowat die slegste ding wat 'n politieke party kan oorkom wat in 'n skandaal beland.
Kiesers in selfs die mees beleë demokrasieë is bereid om regerings te vergewe as hulle droogmaak en onderduims raak.
Veral as hulle andersins skaflik regeer.
Maar hulle sien rooi as hulle die woord ``toesmeer'' hoor.
Richard Nixon kon 'n presidentsverkiesing wen nadat die eerste onthulling oor die Watergate-inbraak in Amerika in die sewentigs gepubliseer is.
Wat hom minder as twee jaar ná daardie verkiesing gesink het, was egter die onthullings oor hoe hy geknoei en gelieg het om die ware feite in die Watergate-affêre te verberg.
ANC-politici verpes dit as parallelle getrek word tussen die Inligtingskandaal en die wapenskandaal. Dit doen egter geen afbreuk aan die geldigheid van sekere ooreenkomste nie.
Toe oudregter Anton Mostert, die Rand Daily Mail en die Sunday Express in 1978 die sluier begin lig op die gekonkel wat later die Inligtingskandaal sou word, het die NP-regering ook 'n ondersoek geloods deur instansies wat op die staat se betaalstaat was.
Daardie ondersoek het, soos die Ngcuka/Fakie/Baqwa-ondersoek, die uitvoerende gesag ``onskuldig'' bevind. Ná die eerste ``ondersoek'' deur Boss-amptenaar Lood Reynders het die NP-regering die ding ook probeer afmaak as `` 'n storm in 'n glas water'' (dr. Connie Mulder).
Iemand het bes moontlik destyds, soos pres. Mbeki die afgelope week gemaak het, 'n etniese kaart gespeel met 'n verweer dat alles net 'n heksejag teen die Afrikaners was.
Dit het niks gehelp nie.
``It won't go away, Mr Vorster,'' het die nou vergane Rand Daily Mail geskryf in 'n hoofartikel nadat premier John Vorster se regering gedink het die debakel is ``agter die rug''.
Die Inligtingskandaal het nie die NP-regering laat val nie, net soos die wapenskandaal nie die ANC-regering sal laat val nie.
Maar in die oë van sy getroue Afrikanerondersteuners het die Inligtingskandaal die party van sy onskuld beroof. Dit het sy binding met NP-kiesers verswak en in die jare ná die skandaal dit vir hulle makliker gemaak om hom te los, na links en na regs.
Wat ook al die uiteinde van die wapenskandaal, die ANC gaan nog 'n prys betaal, eendag.
En wat betref Mbeki se uitlating dat die skandaal net bestaan in die koppe van wittes wat dink swartes is korrup, omkoopbaar en onbe- voeg: in die huidge tentatiewe klimaat van politieke herskikking waarin minderhede hulle begin gereed maak om die rassestereotipes van ons politiek te deurbreek, het dié opmerking al die subtiliteit en veerkrag van 'n loodballon gehad.
Met erkenning aan Tim du Plessis en Rapport.