Publication: Rapport Issued: Date: 2002-12-01 Reporter: Eugene Gunning Editor:

Nuwe Wet Het Skaafwerk Nodig

 

Publication  Rapport
Date 2002-12-01
Reporter Eugene Gunning

 

Noem dit tandekryprobleme. Noem dit groeipyne. Hoe ook al, dis duidelik dat die nuwe wet op die bevordering van toegang tot inligting nie van meet af aan sonder haakplekke toegepas word nie.

Mense kla oor vertragings, rompslomp, lang prosedures, onkunde en onduidelikhede.

Niemand kan beter daarvan getuig as dr. Richard Young, besturende direkteur van CCII Systems in Kaapstad, nie.

Sy wapenmaatskappy was aanvanklik 'n voorkeurtenderaar vir inligtingstelsels in die omstrede wapentransaksie van miljarde rande. Hy wou inligting oor die uiteindelike toekenning van die tender aan 'n ander maatskappy hê en het die wet ingespan om dit te probeer kry.

Van staatskant is aangevoer dat die betrokke inligting juis ingevolge die wet nie verskaf hoef te word nie. Young is toe hof toe en die Pretoriase hooggeregshof het gelas dat die inligting wel aan hom gegee moet word.

Ja, sê Young, 'n oorwinning ingevolge die nuwe wet is dit wel. Dis 'n goeie wet, maar die gewone mens het nie die tyd en die geld om hof toe te gaan om dit op te dwing nie.

Dit blyk ook dat nie alle strukture agtermekaar is nie. Dit geld veral inligtingsbeamptes in staatsdepartemente en maatskappye, asook die handleidings en indekse wat elke instelling moet hê oor die soort inligting wat gehou word.

Mnr. Gareth van Onselen, 'n navorser van die Demokratiese Alliansie, vertel byvoorbeeld dat hy inligting van die departement van sport aangevra het. Hy is gestuit omdat daar nie 'n inligtingsbeampte, soos deur die wet voorgeskryf, was nie. Uiteindelik het hy by die Menseregtekommissie (MRK) aangeklop wat hom gehelp het. Die MRK moet ingevolge die wet waghond speel oor die beskikbaarstelling van inligting.

'n Praktiese probleem wat nou ervaar word en nie aan die wet self toegeskryf kan word nie, is dat massas inligting uit die vorige bedeling tot niet gegaan het. Dokumente waarin die inligting is, kan eenvoudig nie opgespoor word nie. Mnr. David Porogo, woordvoerder van justisie, sê dis moontlik dat inligting uit die ou bedeling vernietig is voor die demokratiese verkiesing in 1994.

'n Groot probleem met die toepassing van die wet is op die oomblik onkunde. Die Open Democracy Centre (ODAC) het byvoorbeeld aan die begin van die jaar bevind 54% staatsamptenare weet nie van die wet nie. Van die 56 private maatskappye wat in 'n ondersoek betrek is, het min dit in werking gestel.

Maar gee kans, sê Porogo. Amptenare word opgelei om die wet toe te pas, maar die staatsdiens is groot en dit neem tyd in beslag.

Dr. Leon Wessels, lid van die MRK, sê die kommissie werk nou aan 'n omvattende handleiding oor die wet.

Aansoekvorms om inligting is by die meeste staatsdepartemente beskikbaar en ook by die Menseregtekommissie.

With acknowledgement to Eugene Gunning and Rapport.