Só Klap die Skote oor Wapens |
Publication | Die Burger |
Reporter | Forum Oos Kaap |
Date | 2001-01-26 |
Die gerugte van korrupsie met die sluiting van die wapenkontrak van R43 miljard is 'n spook wat maar net nie wil gaan lê nie, skryf Christi van der Westhuizen. Die Regering se planne vir die aanskaffing van wapentoerusting van miljarde rande het van meet af aan teenstand van menseregtegroepe gekry. Die argument lê voor die hand: In 'n land met groot sosiaal-ekonomiese agterstande is dit nie sinvol om so 'n groot bedrag aan vegvliegtuie, korvette en duikbote te bestee nie. Om dit in perspektief te stel: Die bedrag is dubbel die welsynbegroting vir 2000-2001 en R10 miljard meer as die gesondheidsdepartement se begroting vir 2000-2001. Boonop is dit alombekend dat die wapenhandel 'n skemerwêreld is, met heelwat omkopery en korrupsie.
Van die begin af was daar gerugte van vuil spel in die onderhandelings om kontrakte aan internasionale wapenvervaardigers toe te ken.
Die teenstand het ook gespruit uit twyfel oor die sukses van teenhandelooreenkomste. Die Regering het kritici se mond probeer snoer met die versekering van teenhandel ter waarde van R104 miljard en die skep van 65 000 werkgeleenthede.
Ongelukkig is die internasionale ervaring dat sulke ondernemings dikwels nie nagekom word nie. Hoewel regeringswoordvoerders aanvoer die kontrakte maak voorsiening vir ``boetes'' wat opgelê kan word aan kontrakteurs wat nie hul verpligtings nakom nie, is die bedrag aan boetes soveel minder as die geld wat in teenhandel verwag word (10% van die kontrakprys vir nasionale nywerheidsdeelnameprojekte), dat die waarde daarvan as afskrikmiddel bedenklik is.
Die drama oor die wapenkontrak het só ontvou:
'n Naamlose verslag en gerugte oor Trevor Manuel en adj.pres. Jacob Zuma:
Pres. Thabo Mbeki moes met die aankondiging in November 1998 dat die kabinet die wapenkontrak ``eenparig'' steun, bewerings ontken dat Manuel bekommerd was oor die uitwerking wat die aankope op die ekonomie sal hê. Teen Augustus 1999 het dié gerugte weer hoofopskrifte gehaal. In dié maand is 'n naamlose verslag onder ANC-parlementslede versprei wat beweer het die keuse van die onderhandelaars sou tot 'n vermorsing van R6 miljard lei.
Ook is beweer dat Zuma onregmatig voordeel trek uit die wapentransaksies. Hy het dit ontken. Kort daarna het Patricia de Lille, PAC-LP, beweer sy het bewyse van korrupsie met die toekenning van kontrakte.
De Lille se bewyse:
``Bekommerde ANC-LP's'' het in September 1999, sowat 'n week voor die Kabinet se finale goedkeuring van die wapenkontrak, 'n dokument aan De Lille gegee met bewerings dat senior ANC-lede in die Regering en die sakewêreld omkoopgeld van wapenvervaardigers ontvang het.
Jayendra Naidoo, hoofonderhandelaar vir die wapenkontrak, het dié ``snert'' uitdruklik ontken.
Op 30 November 1999 het De Lille ``vyf of ses bokse'' dokumente met ``bewyse'' van omkopery van ANC-hoës aan die Heath-ondersoekeenheid oorhandig. Dié ``bewyse'' het gekom van die Coalition for Defence Alternatives, 'n pasifistiese nieregeringsorganisasie wat beweer hy het die bewyse gekry van ANC-LP's en ander ANC-lede wat meen die Regering het die ``struggle verloën'' met die wapenkontrak.
Terry Crawford-Browne van die koalisie het egter erken van die inligting kom van maatskappye met ``suur druiwe'' wie se tenders nie geslaag het nie.
Die OG se verslag:
In September 2000 het Shauket Fakie, Ouditeur-generaal (OG), bevind dat ``wesenlik afgewyk'' is van aanvaarde aanskaffingsprosedures in die toekenning van tenders in die wapenooreenkoms. Hy was ook bekommerd dat die waarborge vir teenhandel nie genoegsaam is nie. Hy het 'n forensiese ondersoek na die primêre en subkontrakte aanbeveel.
Die Skoor-verslag:
Die OG se verslag en ander dokumente is deur die Parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) bestudeer, wat tot die gevolgtrekking kom dat ``onbehoorlike invloed'' moontlik uitgeoefen is in die keuse van primêre en subkontrakteurs. Skoor was ook bekommerd dat botsende belange nie behoorlik uitgeskakel is nie. Die skatting dat 65 000 werkgeleenthede geskep sou word, is as ``avontuurlustig'' en ``optimisties'' bestempel.
Die Kabinet is ook gekritiseer omdat hy nie die publiek ingelig het oor die moontlike kostestyging van R29,9 miljard tot R43, 8 miljard nie.
Die ingewikkelde en oorvleuelende aard van die ondersoek vereis dat vier waghondliggame die OG, die Openbare Beskermer (OB), die Heath-ondersoekeenheid en die Ondersoekdirektoraat vir Ernstige Ekonomiese Misdrywe (Odeem) saamwerk, het Skoor aanbeveel. Skoor se verslag is op 3 November deur die Parlement goedgekeur.
Vergaderings tussen Skoor-lede en waghondliggame:
Op die ``verkennende vergadering'' op 13 November het die waghondliggame ingestem om saam aan die ondersoek te werk.
Die Heath-eenheid het in Oktober reeds aansoek gedoen om 'n proklamasie van die President se Kantoor om aan die ondersoek deel te neem, maar Mbeki het dit na Penuell Maduna, Minister van Justisie, verwys.
Gavin Woods, voorsitter van Skoor, het op 8 Desember op versoek van die OB, die OG en Odeem 'n skriftelike versoek tot Mbeki gerig om so 'n proklamasie aan die Heath-eenheid uit te reik.
Die OB verander van plan:
Op 10 Januarie vanjaar het die OB, adv. Selby Baqwa, op versoek van Maduna aanbeveel dat 'n proklamasie van Mbeki vir die Heath-eenheid nie ``in hierdie stadium'' nodig is nie. Hy meen sy kantoor, die OG en Odeem kan die aantygings na behore ondersoek. Baqwa het die brief sonder Woods se medewete geskryf.
Ander ministers raak onverwags betrokke:
Op 12 Januarie het vier ministers, Alec Erwin, Mosiuoa Lekota, Manuel en Jeff Radebe, onverwags 'n nuuskonferensie gehou waarop hulle gesê het Skoor het ``wanopvattings'' oor die wapenkontrak.
Maduna se aanbeveling:
Op Mbeki se versoek het Maduna sy aanbeveling bekend gemaak dat die Heath-eenheid nié by die ondersoek ingesluit moet word nie. Sy hoofmotivering is die Konstitusionele Hof se bevinding dat 'n regter nie die hoof van só 'n ondersoek kan wees nie.
Op 19 Januarie het Mbeki Skoor en die OG se gevolgtrekkings oor die tenderprosedure vir die wapenkontrak as ``verkeerd'' bestempel. Hy het herhaal dat ``geen'' prima facie-bewyse vir korrupsie bestaan nie.
Op 22 Januarie het die ANC- lede van Skoor hul siening verander en hulle by Mbeki se standpunt geskaar dat die Heath-eenheid nie deel van die ondersoek mag uitmaak nie.
Op 24 Januarie het die partypolitieke spanning in die eens politiek neutrale Skoor hoog geloop toe die DA daarop aandring dat 'n subkomitee die saak op oop vergaderings bespreek. Uiteindelik is besluit die vergaderings sal nie vir die media oop wees nie.
Mbeki het gesê hy gaan geen verdere ondersoeke na die Heath-eenheid verwys nie omdat dié ``oorlaai'' is.
Skoor vergader weer aanstaande Maandag, wanneer die aanbeveling van die subkomitee waarskynlik voorgelê sal word.
Met erkenning aan Die Burger.