Saak teen Staatsinstellings Toets vir Toegang tot Inligting |
Publication | Rapport |
Date | 2002-11-10 |
Reporter | Andries Cornelissen |
Die omstrede wapentransaksie van miljarde rande word nou die grootste hoftoets vir die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.
Dr. Richard "Young", besturende direkteur van CCII Systems in Kaapstad, vra die Pretoriase hooggeregshof om die ouditeur-generaal (OG), die openbare beskermer (OB), die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en die minister van verdediging te dwing om onder meer al die konsepverslae van die ondersoekspan na beweerde ongerymdhede in die transaksie aan hom te gee.
"Young" meen daar is aan dié verslae verander.
Hy was aanvanklik 'n voorkeurtenderaar vir die inligtingsbestuurstelsel van die korvette, maar dit is toegeken aan 'n maatskappy wat bande het met mnr. Schabir Shaik, broer van die hoofwapenaankoper van die weermag, mnr. Chippy Shaik.
Die staatsinstellings meen "Young" is te haastig hof toe en moes hulle die geleentheid gegee het om eers sy versoek behoorlik te oorweeg.
Hy word ook daarvan beskuldig dat hy net die inligting wil hê sodat hy sy skadevergoedingseis van miljoene rande kan versterk.
Die wet bepaal dat elkeen die reg het op toegang tot inligting wat hy nodig het om sy regte te beskerm en uit te oefen.
"Young" sê hy probeer al lank om die inligting te kry, maar die staatsinstellings het elke moontlike verskoning al gebruik om dit nie aan hom te gee nie. Die OG het byvoorbeeld aangevoer dat die ondersoek sowat 700 000 bladsye beslaan het waarvan hy kopieë van 225 000 bladsye gehou het. Volgens adv. Owen Rogers, SC, sal dit sowat 750 leggers wees.
Regter Willie Hartzenberg het hierop gesê dis nie soveel dokumente nie, want hy het al 'n saak aangehoor waarin die dagvaarding meer as 700 leggers beslaan het.
Volgens die OG het hy ook nie die mannekrag om die dokumente deur te werk om te kyk wat vir "Young" van belang is nie en watter dokumente geheim is.
Adv. Michael Kuper, SC, namens die minister van verdediging, het gesê die wet probeer 'n balans tussen 'n konflik van belange bewerkstellig deurdat voorsiening gemaak word vir die beskerming van militêre inligting en handelsgeheime.
Sou "Young" suksesvol wees, kan elke tenderaar wat nie geslaag het nie versoek dat alle dokumente wat verband hou met die staat se besluit beskikbaar gestel word.
Volgens Kuper sal dit die opstel van staatsdokumente aan bande lê as selfs konsepdokumente beskikbaar gestel moet word.
Een van die verskonings wat teenoor "Young" gebruik is, is dat inligting vertroulik deur derde partye aan die ondersoekspan gegee is en dit nie aan hom gegee kan word nie.
Die OG het "Young" ook na ander departemente verwys om die oorspronklike dokumente te bekom omdat hy net kopieë gehad het.
Hartzenberg het hierop gesê: ``Ek het op my dag baie werk vir die staat gedoen en dit sal 'n wonderwerk wees as hulle weet waar die oorspronklike dokument is.''
Uitspraak is voorbehou.
Met erkenning aan Rapport.