Skerpioene Gryp na Strooihalms, sê Shabir Shaik |
Publication | Rapport, Nuus Afdeling |
Date | 2001-11-25 |
Reporter | J.J. van Wyk |
Is daar substansie in die beweringe van bevoordeling, of is die Shaik-broers bloot net offerlammers om druk op die regering oor die wapenskandaal te verlig?
Shabir Shaik, multimiljoenêr-sakeman en beweerde ``dief van kabinetsnotules'' kantel-knik sy kop en trek sy gesig herhaaldelik asof hy wil sê ``wél, jy't dit gesê, jy't dit gesê''.
Oor 'n paar ander dinge is dié ``kort man'' soos hy in 'n stadium na homself verwys, meer uitgesproke. ``Die Skerpioene gryp na grashalms'' en. . . op 21 Januarie, wanneer hy in die hof verskyn oor die notules wat in sy woning gevind is, sal hy sy onskuld bewys. Hy sal 'n vry man daar uitstap.
Dis sub judice, sê hy oor waarom hy só seker, byna rammetjie-uitnek, oor sy saak is. Hy's 'n man van God wat in elke aspek van sy lewe, ook in sy sakebedrywighede, 'n reguit paadjie loop, verduidelik Shaik.
Later, in die onderhoud in Nkobi Holdings se weelderige kantore aan die Durbanse Victoria Embankment, begin 'n moontlike hof-strategie deurskemer: Shaik praat half snedig van die notules oor aspekte van die wapenverskaffingsprojek wat ``na bewering geheim en geklassifiseerd'' is; oor die inhoud van die notules wat hom as wapenkontrakteur nie kon bevoordeel nie, veral nie as die tydsfaktor in ag geneem word nie.
En op 'n vraag oor of sy broer Chippy, die weermag se hoof-wapenaanskaffer wat op die betrokke kabinetsvergadering was, dalk as moontlike ``verskaffer'' uitgesonder kan word, sê hy verskaffing is dalk nie die regte woord nie.
Shaik brand om die vraag oor beweringe van botsende belange en bevoordeling in die regering se wapen-projek van R66 biljoen deur sy broer Chippy, te beantwoord. Hy gee byna driftig 'n skematiese voorstelling van sy Nkobi-groep van maatskappye se verhouding met Franse sake- en wapenreus Thomson CSF om te wys dat nóg hy nóg sy maatskappye belang het by Detexis, 'n volfiliaal van Thomson CSF International.
Detexis het op omstrede wyse 'n multimijoen-subkontrak gekry ten koste van 'n Kaapstadse verskaffer, mnr. "Richard" "Young" se CCII wat blykbaar in 'n stadium die weermag en Krygkor se eerste keuse was.
Baie vrae en vermoedens bly egter talm, vrae oor of die sterk sakebande tussen Nkobi en Thomson International, hul mede-aandeelhouding in Thomson Suid-Afrika en African Defence Systems (ADS) nie dalk 'n rol gespeel het in die Detexis-besluit nie.
ADS is boonop nie net as primêre kontrakteur deel van die Duitse konsortium wat vier korvette moet verskaf nie, maar het terselfdertyd beding vir korvet-subkontrakte en het boonop insae gehad in tenders van onregstreekse mededingers soos CCII.
Maar dis vrae wat sy broer Chippy dalk beter sal kan beantwoord.
As sekere universtiteitsrektore weet hoe hy daarin geslaag het om Thompson as sake-vennoot aan boord te bring, gee hulle hom 'n eredoktorsgraad, spog Shaik openlik.
``Dis harde werk, uithou en aanhou, visie, entrepreneurskap.
``As ek my besigheid op enige politieke party of enige politikus gebou het . . .jy weet hoe wispelturig is die politiek. Jy bou 'n sake-onderneming op gevestigde sake-beginsels.''
Dieselfde geld die ADS se betrokkenheid in die konsortium, sê hy. Dit het niks met politieke invloed of bevoordeling te doen nie.
Maar ja, goeie politieke kontakte help altyd, erken hy oor die algemeen.
Op 'n vraag oor of die Skerpioene oor enige getuienis beskik wat daarop dui dat hy deur sy broer bevoordeel is, sê hy: ``Ek kom uit 'n agtergrond, uit die ou dae, van 'n familie van intelligensiemense, die ondergrondse beweging.
``As jy weet iemand gaan toeslaan, wat doen jy? Jy verwyder enigiets wat jou kan kontamineer. ''
Die teendeel is waar, sê hy.
``My korrespondensie met adjunk-president Jacob Zuma was hier, korrespondensie met my geliefde oud-president Mandela, met ons huidige president, mnr. Mbeki, met verskeie ministers.
``Wat het ek om weg te steek? Ek loop 'n reguit pad.
``Ek glo nie hulle het enigiets wat my op die verdedigingskant kan inkrimineer nie.''
Met erkenning aan J.J. van Wyk en Rapport.