Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-05-17 Reporter: Editor:

ANC's in Skoor `Swig Voor Druk' in Wapensage'

 

Publication  Die Burger
Date 2001-05-17

 

KAAPSTAD. Die ANC-lede van die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) het klaarblyklik geswig voor die druk van die uitvoerende gesag oor die komitee se benadering tot die ondersoek na die wapenpakket.

Die ANC-lede van Skoor teken in 'n konsepverslag verskoning aan teenoor die uitvoerende gesag, en kritiseer nie wat kommentators beskou as regstreeks inmenging en intimidasie van Skoor deur die uitvoerende gesag nie.

Me. Patricia de Lille van die PAC het gister bevestig dat sy konstitusionele hof toe wil gaan oor pres. Thabo Mbeki se besluit om die Heath-eenheid uit te sluit van die ondersoek na korrupsie in die wapenpakket van R43,8 miljard.

Volgens De Lille het die uitvoerende gesag se benadering tot die ondersoek die land in 'n ``grondwetlike krisis'' gedompel, ``deurdat die uitvoerende gesag onbeskaamd die ANC se meerderheid in die Parlement misbruik''.

Sy het ook gister vir die eerste keer twee mense genoem met wie sy inligting oor beweerde ongerymdhede in die toekenning van die wapenkontrakte uitgeruil het. Hulle is prof. Themba Sono, DA-LW in Gauteng, en dr. Richard Young van die wapenmaatskappy CCII Systems in Kaapstad. Young beoog ook 'n hofsaak teen die regering.

Die PAC wil met die hofsaak die regering se verantwoordbaarheid en deursigtigheid toets, het De Lille gesê.

Die hofsaak kan uitsluitsel gee oor wat die status van die kontrakte is indien korrupsie bewys word.

Young het gister gesê CCII Systems is eers deur die Suid-Afrikaanse Vloot aangewys as die voorkeurverskaffer van die inligtingsbestuurstelsels vir die nuwe Duitse korvette, maar toe is die kontrak toegeken aan Detexis, wat glo bande met staatsamptenare het.

Die ANC-lede van Skoor was gister nie bereid om 'n ``minderheidsverslag'' van die opposisiepartye in te sluit by Skoor se tweede verslag oor die wapenpakket-debakel nie.

Skoor moet sy tweede verslag aan die Nasionale Vergadering voorlê oor die verloop van sake sedert dié komitee in November verlede jaar 'n ondersoek na die wapenpakket aanbeveel het. In dié verslag moet Skoor sy standpunt stel oor die uitsluiting van die Heath-eenheid van die ondersoek, en die aanvalle van adj.pres. Jacob Zuma en vier ministers op Skoor.

Die ANC het 'n konsepverslag opgestel, wat die opposisie gister verwerp het. Die ANC meen sy verslag moet as Skoor se verslag beskou word, omdat die komitee ``gedrewe is deur die meerderheidstandpunt'' soos vervat in die ANC-verslag, het mnr. Thabang Makwetla, voorsitter van die ANC-koukus, gesê.

Voordat dié standpunt in gister se Skoor-vergadering gestel is, was die ANC se standpunt dat hy die opposisiepartye se standpunte sal insluit by sy verslag ``indien hulle die ANC daarvan kan oortuig''.

Die ANC sê in sy verslag dat Skoor ``nooit bedoel het om die uitvoerende gesag van oneerlikheid of korrupsie te beskuldig nie. As dit so lyk, word dit betreur''.

Volgens die ANC het dr. Gavin Woods, Skoor-voorsitter, sy versoek aan Mbeki om die betrokkenheid van die Heath-eenheid gedoen sonder die insae van die res van die Skoor-lede.

Die ANC steun ook mnr. Trevor Manuel se standpunt dat die wapenpakket R30,3 miljard kos en nie die markaangepaste R43,8 miljard nie.

Met erkenning aan Die Burger.