Publication: Die Burger Issued: Date: 2002-11-16 Reporter: Nicolize Mulder Editor:

Uur van Waarheid Breek aan oor Weermag se Wapenkontrak

 

Publication  Die Burger
Date 2002-11-16
Reporter Nicolize Mulder

 

PRETORIA. Gissings oor 'n beweerde moontlike toesmeerdery en politieke inmenging in die finale verslag oor die multimiljardrand-wapenpakket sal nou óf bewys óf ter ruste gelê kan word.

Regter Willie Hartzenberg het gister in die plaaslike hooggeregshof gelas dat mnr. Shauket Fakie, die ouditeur-generaal (OG), binne agt weke alle voorlopige weergawes van die verslag aan dr. Richard Young se wapenmaatskappy, CCII Systems, beskikbaar stel.

``As die mediadekking van dié saak en die bekendheid van die gesamentlike kommissie se lede in ag geneem word, is dit sekerlik 'n saak waarin die grootste moontlike toegang tot inligting nodig is om ontslae te raak van alle vermoedens van 'n toesmeerdery.

``Dit is nie goed genoeg dat agter vae stellings weggekruip word nie. As dit beteken die OG moet nog mense aanstel, moet dit gedoen word. CCII sinspeel op botsende belange en politieke druk. Sulke vermoedens moet ter ruste gelê word as dit haalbaar is,'' het Hartzenberg gesê.

Young se aansoek en oorwinning is ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting van 2000. Dit was een van die eerste geleenthede waar dié wet in die hof beredeneer is.

Die aansoek was teen Fakie, adv. Selby Baqwa, voormalige openbare beskermer, adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, en mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging. Almal het dit teengestaan.

Hartzenberg het voorts gelas CCII moet binne die voorgeskrewe agt weke toegang kry tot 'n ``verkorte verslag'' van alle ouditlêers, met onder meer 'n aanduiding hoekom hy uitgesluit is as verskaffer van 'n inligtingbestuurstelsel vir die vloot se nuwe korvette.

Ook moet inligting verstrek word oor die rol van African Defence Systems (ADS) in dié verskaffing, sowel as oor botsende belange wat kon bestaan. ADS het die kontrak vir die verskaffing van die bestuurstelsel bo CCII gekry.

Inligting oor die botsende belange wat mnr. Chippy Shaikh kon hê as hoofwapenaanskaffer vir die weermag, sowel as sy broer, mnr. Schabir Shaikh, wat 'n belang by ADS gehad het, moet ook verskaf word.

Die OG moet 'n lys gee van dokumente wat kragtens wet weens vertroulikheid nié aan CCII oorhandig kan word nie, en redes gee. Die OG voer aan CCII se versoek is te groot en die personeel ontbreek om elke dokument te bekyk.

Met erkenning aan Nicolize Mulder en Die Burger.