Publication: Rapport Issued: Date: 2002-11-17 Reporter: Eugene Gunning, Politieke Beriggewer Editor:

Waarheid ál Nader ná Hofbevel, sê de Lille

 

Publication  Rapport
Date 2002-11-17
Reporter Eugene Gunning, Politieke Beriggewer

 

'n Belangrike stukkie van die legkaart van die ondersoek na Suid-Afrika se groot wapentransaksie van miljarde rande gaan nou beskikbaar gestel word, sê me. Patricia de Lille, PAC-parlementslid. ``Dit bewys dat die ondersoek na die transaksie nog ver van klaar is.''

Sy het gister gereageer nadat die Pretoriase hooggeregshof Vrydag gelas het dat die ouditeur-generaal alle voorlopige uitgawes van die finale verslag oor die wapenskandaal aan dr. Richard "Young" se wapenmaatskappy CCII Systems beskikbaar stel.

Daar was destyds sterk sprake in politieke kringe dat die finale weergawe van die wapenverslag 'n verwatering van die oorspronklike weergawes was ná druk deur pres. Thabo Mbeki, kabinetslede en die ANC.

Daar word druk bespiegel dat die aanvanklike verslae die kollig sal laat val op wyle mnr. Joe Modise, voormalige minister van verdediging, moontlik ander kabinetslede en veral amptenare.

De Lille, wat die eerste LP was wat reeds in September 1999 die parlement gevra het om 'n ondersoek te doen, sê die regering word nou gedwing om inligting bekend te maak.

``Ek verwelkom die uitspraak, maar hoekom moes daar eers hof toe gegaan word? Ek glo inligting oor belangrike dele van die transaksie sal nou uitkom. Daar behoort nou groter duidelikheid te wees oor die tenderprosedures en hoe die finale besluit geneem is.

``Mense kan maar probeer om die waarheid weg te steek, maar al duur dit tien tot twintig jaar, dit sal uiteindelik uitkom. Ons sal nou ook groter duidelikheid kry oor die werklike koste van die transaksie. Dit gaan weer van voor af 'n katnes oopmaak.''

Dr. Gavin Woods, IVP-LP en voormalige voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekenings (Skoor), sê die uitspraak is 'n baie belangrike verwikkeling.

``Dit is 'n toetssaak om te wys of die ondersoek na die transaksie eerlik was. Ek hou vol dat dit nie 'n goeie ondersoek was nie en dat ons steeds nie die volle waarheid weet nie. Daar is steeds onbeantwoorde vrae.

``Dit maak 'n nuwe blik oop. Of daar wurms in is, sal ons moet sien. Dit gee my moed dat ons nader aan die waarheid beweeg.''

Regter Willie Hartzenberg het in sy uitspraak gesê dit is vir seker 'n saak waarin maksimum toegang tot inligting nodig is om ``ontslae te raak van enige vermoede van toesmeerdery''.

Met erkenning aan Eugene Gunning en Rapport.