Publication: Rapport, Nuus Afdeling Issued: Date: 2001-08-26 Reporter: Andries Cornelissen Editor:

Young Wik en Weeg Steeds oor Getuienis in Wapensaak

 

Publication  Rapport,
Nuus Afdeling
Date 2001-08-26
Reporter Andries Cornelissen

 

Dr. Richard "Young", besturende direkteur van CCII Systems in Kaapstad en die eerste onafhanklike getuie in die openbare ondersoek na die wapenskandaal, het nog nie besluit of hy môre in Pretoria gaan getuig nie.

Hy is nie tevrede met die voorwaardelike toestemming wat hy gekry het om te getuig nie.

Dit is dan moontlik dat sy getuienis nie aangehoor sal word nie, omdat die openbare beskermer (OB) reeds aangedui het dat hy geen verdere uitstel sal toelaat nie.

Die OB het hom Vrydag laat weet die verhoor gaan môre voort met of sonder hom.

Mnr. Mosiua Lekota, minister van verdediging, het Maandag aan "Young" toestemming gegee om te getuig met die voorwaarde dat hy nie inligting uit geheime dokumente openbaar maak nie.

Lekota moes dié toestemming gee, anders sou "Young" volgens die verdedigingswet vervolg kon word.

"Young" het gisteraand by navraag gesê hy het nog nie besluit of hy gaan getuig nie.

Die brief wat hy verlede Vrydag van Lekota gekry het om hom ook van die Krygkorwet vry te stel is nie geteken nie.

Hy meen ook Lekota se voorwaarde oor die geheime dokumente is te wyd en hy kan homself steeds blootstel.

"Young" se maatskappy het 'n tender vir 'n bestuursinligtingstelsel verloor nadat 'n risiko-bepaling deur African Defence Systems (ADS) die tenderprys met R40 miljoen verhoog het, en die vloot kon dit nie bekostig vir die vier duikbote nie.

Dié tender is toe toegeken aan Detexis, 'n sustermaatskappy van ADS. Mnr Shabir Shaik, ADS-direkteur, is die broer van mnr. Chippy Shaik, hoofaankoper van die weermag, wat 'n groot rol in die wapentransaksie gespeel het.

Sy vrou werk ook vir ADS.

"Young" het gesê hy het nog geen vlugbesprekings of verblyfreëlings getref vir hom óf sy regspan nie.

Hy het reeds meer as R500 000 aan regskoste bestee, want hy meen die verloor van die tender het hom R100 miljoen tot R200 miljoen se skade laat ly.

acorneli@rapport.co.za

Met erkenning aan Andries Cornelissen en Rapport.